Het jy ooit gedink jy sal op 23 reeds drie Sama-pryse gewen het?

Glad nie! Ek het gedink dit sal veel langer vat om daardie doelwit te bereik.

Dis ’n groot seën. (Sy het pryse vir album van die jaar, beste vroulike sangeres en beste nuweling gewen.)

Het jy ná die geleentheid jou pryse gevier?

Ek was maar bra flou. Ek het saam met my ouers, ’n paar vriende en mense van my platemaatskappy in my hotelkamer gekuier. Ek het eintlik die aand tevore partytjie gehou.

Die idee dat dit uit verskillende aspekte bestaan, som my én my musiek goed op

Die Album van die Jaar-prys beteken vir my die meeste. Die beoordeling van die ander kategorieë kon ietwat partydig wees, maar in daardie kategorie kon enigeen wen.

Jy het groot sukses behaal met jou debuutalbum, Rose Gold. Vertel ons meer.

Ek het al die liedjies op die album geskryf. Ek het die snit Please Mr geskryf terwyl ek musiek aan die Afda-rolprentskool studeer het. (Sy het in 2017 gegradueer.).

As deel van die liedjieskryfkursus moes ek 30 liedjies inlewer, en dié snit was een van hulle. Dis intussen herverwerk.

Hoe sou jy jou musiekstyl beskryf?

R&B gemeng met pop-soul.

Vertel ons van jou grootwordjare.

Ek is die tweede jongste van vyf kinders. My ma was ’n leraar by ’n Anglikaanse kerk en my pa bestuur ’n onderneming wat geld vir niestaatsorganisasies insamel. As kind het ek in ’n koor gesing en teater- en danswerk gedoen.

Ons het in my kinderjare na verskillende musiekstyle geluister – van Nirvana en Cher tot Trompies en Dr. Dre. Ons familie was nog altyd na aan mekaar. My suster behartig my webtuiste en foto’s, my pa hanteer my finansies, en my skoonsuster is deel van my administratiewe span.

Waar sien jy jouself oor vyf jaar?

Ek sal graag op die kruin van my loopbaan wil wees. Ek sal miskien ook vir ander sangers skryf en met verskillende mediums eksperimenteer.

En natuurlik wil ek internasionaal sukses behaal.

resensies

GEVLERKTES

LIZANNE BARNARD

Dié musikant en liedjieskrywer trek al jare aandag op onder meer kunstefeeste met haar musikale verhoogproduksies soos die onlangse Bêreboksie Vol Vlerke.

Dié akoestiese album doen dieselfde. Dit bevat werk van die kontemporêre skrywer Lidi de Waal wat deur Lizanne getoonset is.

Hierdie album sal nie in kuier- en dansplekke gespeel word nie, maar is bedoel vir fynproewers wat hul gedagtes vlerke wil gee.

VOLGENDE STAP

JOE FOSTER

Dit is Joe se derde enkelsnit en die titelsnit op sy nuwe (en tweede) album. Dié album bevat 13 Afrikaanse en Engelse liedjies in die popgenre wat almal deur Joe geskryf is.

Die derde snit op die album, Vrede Maak, is reeds ’n groot treffer op radiostasies en in dansplekke nadat dit vroeër vanjaar ook as ’n enkelsnit uitgereik is.

Dié liedjie is ’n aanduiding van die klanke van die res van die album – en aanhangers sal weet wat om te verwag. – Jaco Hough-Coetzee