Richann en René
Foto: Christian Wolf

HUL DEBUUT

Boer Richann en René de Klerk het in Desember een aand op Richann se plaas op die Vrystaatse platteland gesit en saamsing terwyl hy kitaar speel toe hulle skielik die behoefte deel om ’n liedjie te skryf en op te neem.

So is dié paartjie van die afgelope seisoen van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou se eerste enkelsnit, “Vrystaat vlaktes”, gebore, vertel Richann (30).

Die lirieke kom uit hul pen, terwyl Murray Lubbe en Shan Read vir die komposisie verantwoordelik was. Dis ’n goedvoelliedjie met ’n lewendige tempo in die folkgenre.

Hulle is albei lief vir die platteland, is plaaskinders en woon in die Vrystaat, vertel René (26).

“Daar is dus betekenis in die titel van die liedjie. Die boodskap is dat mense weer die platteland moet ervaar waar hulle hulself kan ontdek. En as jou platteland die Vrystaatvlaktes is, dan is dit cool. Die Vrystaatse platteland was ons inspirasie toe ons dit geskryf het.”

Hulle ervaar dat mense na die platteland verlang, sê Richann.

“Almal het die een of ander goeie herinnering aan die platteland. Soveel te beter as jy jou hart ook nog kan verloor op iemand op die platteland, soos ons. Dis wat ons in gedagtes gehad het toe ons die liedjie geskryf het.”

DIE DUETNAAM

Richann en René het die duetnaam “Reën” gekies omdat dit soveel verskillende betekenisse het en ook op hulself van toepassing is. As plaasmense weet hulle dat reën die een gemeenskaplike faktor is wat alle boere nodig het om te kan oorleef.

Dit laat plante groei en bring lewe. Op ’n emosionele vlak het ’n mens ook liefdesreën in jou lewe nodig om te groei en gelukkig te wees. Op ’n ander vlak is dit ook ’n skommeling van die letters van René se naam.

Hul enkelsnit, “Vrystaat vlaktes”, is onlangs uitg
Hul enkelsnit, “Vrystaat vlaktes”, is onlangs uitgereik. Die video het binne ’n week meer as 70 000 kyke op YouTube gekry.

HUL MUSIEKPAD

Soos hul liefdespad deur die Vrystaat gestap het tot in mekaar se harte, het die pad na die enkelsnit ook ’n interessante pad gestap.

Richann was ’n dekade gelede gedurende sy studentedae in Potchefstroom ’n bekende gesig in kuierplekke in die stad waar hy mense met sy kitaar en liedjies vermaak het. Musiek was eintlik maar net ’n passie en nooit ’n permanente loopbaan wat hy oorweeg het nie, vertel hy.

 Richann en René van Boer soek ’n vrou is nou ook
Richann en René van Boer soek ’n vrou is nou ook ’n duetgroep. Foto: Christian Wolf

“My belangstelling lê meer in die produksiekant.” René, wat die hoofstem op die enkelsnit is, het geen formele musiekopleiding of enige ervaring van solo-optredes nie.

“Maar ek het darem in die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein in die skoolkoor gesing!” vertel sy. En Richann voeg by: “Sy het hope geesdrif. Dit tel!”

DIE TOEKOMS

Die twee werk nou aan nuwe liedjies met die oog op vertonings. Nes hul debuut- enkelsnit sal hul toekomstige repertoire hoofsaaklik in die Afrikaanse folkgenre val.

“Ons weet nie wat om te verwag nie, maar ons is nou op hierdie roller coaster ride,” sê Richann. “Ons sal hom ry en kyk wat gebeur.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe