Die ikoniese groep wat in die 1990’s groot sukses behaal het met treffers soos Quit Playing Games with My Heart, Everybody (Backstreet’s Back) en Show Me the Meaning of Being Lonely, reik op 25 Januarie hul 10de album, DNA, uit.

Die album bevat ook hul jongste enkelsnit, Chances, wat deur One Republic se voorsanger, Ryan Tedder, en die gewilde sanger Shawn Mendes geskryf is.

Backstreet Boys skop in Mei hul DNA-wêreldtoer af waartydens hulle 69 konserte dwarsoor Europa en Noord-Amerika sal hou.

“Daar is so baie wat ons nog wil doen,” sê een van hul lede, Brian Littrell. “Ons beleef tans die volgende hoofstuk en dit is baie opwindend.”

In syfers

100 miljoen+ Die getal albums wat hulle reeds wêreldwyd verkoop het. Hulle is tans die topverkoperseunsgroep van alle tye.

9 Backstreet Boys is die eerste seunsgroep wie se eerste nege albums die top-10 op die Amerikaanse Billboard 200-albumtrefferlys gehaal het.

18 Hulle het verlede jaar hul 18de snit op die Billboard Hot 100-trefferlys gehad met hul enkelsnit Don’t Go Breaking My Heart. “Ná 25 jaar is dit steeds oorweldigend dat ’n liedjie so ’n reaksie op die radio kry,” sê AJ.

1 Hulle het een vaste produksie in Las Vegas, Larger Than Life, wat in 2017 afgeskop het. Die konsert kom in April voor hul wêreldtoer tot ’n einde.

26 Die getal jare wat die groep al saam is. Backstreet Boys bestaan steeds uit sy oorspronklike vyf lede: AJ McLean (41), Howie Dorough (45), Nick Carter (38), Kevin Richardson (47) en Brian Littrell (43).

6 Backstreet Boys het al ses top-10-inskrywings op die Billboard Hot 100-trefferlys gehad, waarvan twee van hul liedjies, I Want it My Way en Show Me the Meaning of Being Lonely, die no. 1-posisie behaal het.

Ook op ons speellys

In Afrikaans volume 3: Verskeie kunstenaars

Hierdie saamgestelde album boer tans op die treffersparades met 20 bekende liedjies deur verskeie kunstenaars. Dit sluit in Jo Black (Een Klein Klippie), Karlien van Jaarsveld (Wil Jy Vry?), Spoegwolf (Flikker) en Snotkop (Dikkelicious).

Die hoogtepunt is beslis Skepe, Jo se duet saam met Karen Zoid. ’n Lekkerluisteralbum wat die langpad sal opvrolik. – Jaco Jough-Coetzee

Klanktoets vol 1: Verskeie kunstenaars

’n Interessante album waarop die platemaatskappy IB Entertainment met die talent van die 15 kunstenaars in sy musiekstal spog, soos Monique West en Leroi Warren. Die meeste van die kunstenaars is nuwelinge wat op die album debuteer en vanjaar hul eerste vollengte-albums uitreik.

Saam met die nuwelinge is daar ook goue bekendes op die album soos Dennis East se Dammit I Love You, Matt Hurter se Littlest Cowboy en Sak en Pak van Fredi Nest. Die musiek wissel van elektroniese sokkie en country tot rock. – Jaco Jough-Coetzee

Bronne: Wixx.com, Billboard.com