ALLES IS BLOU

Dié mengsel van onder meer rock- en popklanke se titel, Blue, het ’n diep simboliese betekenis vir die 22-jarige Kaapse sangeres. Sy glo die kleur simboliseer ’n wye reeks gevoelens, emosies en houdings. Die album bestaan uit 10 liedjies en is onlangs uitgereik.

GUNSTELINGE

Haar geliefkoosde liedjies op die album is I Don’t Miss You, Black Jack en Heaven. Black Jack was een van die eerste liedjies wat sy geskryf het; daarom is dit vir haar so spesiaal, vertel sy.

I Don’t Miss You het ’n lekker ritme, en Heaven is ’n unieke liedjie wat nie soos die res van die snitte op die album klink nie, sê sy.

STUDIE EERSTE

Ná skool het Céline vertoonkuns aan The Stage Performing Arts Studio studeer. Dié driejaarkursus het toneelspel, dans en musiekteater ingesluit.

Sy het ook onlangs ’n kursus in sosialemediabemarking aan die sakeskool Red & Yellow voltooi.

STIL MEISIE

As kind was Céline “baie skaam en stil” en het sy gesukkel om haarself uit te druk, sê die sangeres.

Sy het haar later deur musiek uitgeleef. Reeds op 11 jaar het sy daarvan begin droom om eendag ’n album uit te reik.

GROOT DROME

Céline wil graag eendag met haar musiek oorsee toer en op feeste optree, nog musiek skryf en albums uitreik.

Sy droom ook van televisie- en fliekwerk. Maar vir eers is haar liedjies ’n gunsteling op radiostasies.