NUWE LEWE

Die Amerikaanse sangeres se mees onlangse albums, Bionic (2010) en Lotus (2012), was kommersiële flops, maar Liberation, haar eerste album in ses jaar, laat talle resensente regop sit.

Die titel? “Dit het gevoel asof ek die afgelope paar jaar aan die slaap was agter die stuurwiel, in selfbestuurmodus. Ek het nie my volle potensiaal uitgeleef nie; ek moet sing en musiek maak,” sê Christina (37).

VROUE BO!

Sy het onder meer ’n duet, Fall in Line, saam met Demi Lovato opgeneem.

Sy sê sy het byna gehuil toe sy Demi se stem hoor op die liedjie, wat oor vrouebemagtiging gaan.

DIE KANYE-KONNEKSIE

Die rapper Kanye West het twee liedjies op die album vervaardig, Accelerate en Maria.

??????? @kimkardashian

A post shared by Christina Aguilera (@xtina) on

UITGESPROKE

Sy het in 2016 ná ses seisoene as afrigter op die Amerikaanse TV-sangreeks The Voice die program verlaat.

“Dit het iets geword wat ek nie in die eerste seisoen voorsien het nie: Jy besef mettertyd dit gaan nie oor musiek nie, maar oor goeie TV-oomblikke en om ’n storie te melk. Ek is nie in dié bedryf om ’n TV-aanbieder te wees nie.”

226: Die getal pryse wat sy al ingepalm het – hieronder tel vyf Grammys.

VERKLEURMANNETJIE

Sy’t weer ’n voorkomsverandering ondergaan. Die ma van twee het vroeër vanjaar grimeringloos op die voorblad van die tydskrif Paper gepryk omdat sy “nou aanvaar wie sy is”.

DIVA?

Die Genie in a Bottle-sangeres is al as tiener in die TV-reeks The Mickey Mouse Club “die diva” gedoop.

In 2007 het die fotograaf David LaChapelle haar glo op die swartlys geplaas omdat sy moeilik was om mee te werk.

Gerugte het destyds die ronde gedoen dat sy jaloers was op Britney Spears, wat ook in The Mickey Mouse Club was.

WERKENDE MA

Christina het ’n seun, Max (10), by haar eksman, die musiekvervaardiger Jordan Bratman (41), en ’n dogter, Summer Rain (3), by haar verloofde, die kitaarspeler Matthew Rutler (33).

Sy gaan nou vir die eerste keer in ’n dekade toer. “Dis vir my vreesaanjaend,” sê sy.

“Maar ek is opgewonde om vir my kinders te wys wat mammie regtig doen.” Summer is nie ’n aanhanger nie.

“Wanneer ek my stem opwarm, slaan sy die deur toe en sê: ‘Jy onderbreek Peppa Pig!’

????♥?

A post shared by Christina Aguilera (@xtina) on

RESENSIES 

DANKIE

Mariska

Dis die eerste enkelsnit van dié sielkundestudent se gelyknamige album.

Dit volg op haar aanlyn album van 2016, A Tribute to Enya.

Die snit is in ’n ligte popstyl met klassieke ondertone en dra die boodskap oor om dankbaar te leef.

Sommige bruidspaartjies sal dit moontlik as ’n openingsdans op hul troue wil gebruik.

Mariska is nog aan die begin van haar musiekloopbaan, maar sy kan groot hoogtes bereik.

– Jaco Hough-Coetzee

TOT DIE SEE OPDROOG

Jennifer Zamudio

Dié liedjie is Jennifer Zamudio se huldeblyk aan haar pa, René.

Sy het op 27 Augustus 2016, net ’n uur voor sy op Kuruman op die verhoog sou klim, uitgevind haar pa is dood.

Kort daarna het sy dié liedjie geskryf.

Dit roer die hartsnare. Dit spreek van verlange ná die dood en is een wat ’n mens kan luister wanneer jy die fotoalbum uithaal om op ’n nostalgiese reis te gaan.

Dit is op haar nuwe CD, Goud Is My Woorde, ingesluit. 

Abby-Gene Bissolati

Bronne: EW.com, Popsugar.com.au, Billboard.com, Uselessdaily.com