Nostalgiese musiekreis

Enige musiekverslaafde wat in die middel tot laat 1970’s tieners was, sal onthou hoe die reusetreffers “Substitute” en “Save Me” oor en oor op garagepartytjies en in klubs en disko’s gespeel is.

Die plaaslike vrouegroep Clout was op almal se lippe.

Essential Collection: Last One Standing is 'n vers
Essential Collection: Last One Standing is 'n versameling van Cindy se gunsteling treffers. Foto: Verskaf

En so natuurlik ook hul hoofsangeres, die uiters talentvolle Cindy Alter, met haar elektriese kitaar in die hand.

As liedjieskrywer, sangeres en kitaarspeler in verskeie groepe het sy meer as 12 miljoen albums, solussewes en enkelsnitte wêreldwyd verkoop wat haar een van Suid-Afrika se grootste verkopers van alle tye maak.

Nou is haar album Essential Collection: Last One Standing uitgereik.

Die nuwe album

Dit bevat 15 van haar gewildste liedjies uit haar musiekloopbaan wat oor 40 jaar strek, met treffers van haar dae in groepe soos onder meer Clout, Zia en die Alter Irving Band, asook van haar solo-opnames.

Cindy het sowat ’n jaar of twee gelede besef dit is ’n goeie idee om ’n album saam te stel en haar platemaatskappy was mal oor die idee.

Cindy Alter se nuwe album, Essential Collection: L
Cindy Alter se nuwe album, Essential Collection: Last One Standing, bevat 15 van haar gewildste liedjies. Foto: Verskaf

“Dit was moeilik om deur al my liedjies te sif en net ’n paar te kies, maar ek wou graag die liedjies insluit waarvoor mense gereeld by my vertonings vra,” vertel Cindy, wat steeds as sangeres wêreldwyd optree.

“Baie mense in Suid-Afrika ken ook nie regtig die liedjies wat ek in Amerika uitgereik het nie, so dit is lekker om hulle ook aan daardie snitte bekend te stel,” voeg sy by.

Behalwe haar twee Clout-treffers, is ander bekende liedjies soos “Alive”, “Silver Moon”, “Waiting for the Winds (Woza Moya)”, “Tightrope” en “Good Man” ook op die album ingesluit.

  • Die album is op CD en in digitale formaat beskikbaar.
Deurbraak
Die liedjie “Substitute” is oorspronklik in 1975 as ’n meesleurende ballade met country-ondertone deur The Righteous Brothers opgeneem, maar hulle kon nie sukses daarmee bereik nie. Clout se popweergawe het in 1978 wêreldwyd op die trefferlyste geboer.

Nuwe enkelsnit

Ingesluit op die album is Cindy se jongste enkelsnit, “Last One Standing”.

Einde 2019 het Cindy ’n nuwe liedjie, “Hole in a Ring”, uitgereik, en dit is ook rondom daardie tyd dat sy haar jongste enkelsnit geskryf het.

“Ek het nie dié liedjie dadelik uitgereik nie, want ek het gevoel daar gaan wel ’n spesiale tyd vir hom wees.

Toe ek aan hierdie album begin werk, het ek geweet dit is die regte tyd,” verduidelik die 63-jarige sangeres.

“Dié liedjie beteken vir my baie, veral in hierdie onseker tye waarin ons nou leef. Almal is onseker wat die toekoms inhou en tog wil ons aanhou veg en sterk staan,” sê sy.

Musiek, haar redding

Akute miëlogene leukemie is in 2002 by Cindy, wat toe in Los Angeles, Kalifornië, gewoon en werk het, gediagnoseer.

Sy het dadelik chemoterapie ontvang asook ’n stamsel-beenmurgoorplanting.

“Hoewel ek in daardie tyd deur hel is, is ek nou al 18 jaar kankervry,” vertel Cindy, wat deesdae in Johannesburg woon.

Dit is veral tydens die baie moeilike tye in haar lewe wat musiek haar gedra het.

“Musiek was nog altyd my kompas. Wanneer ek deur ’n moeilike tyd gegaan het, is dit altyd musiek wat my gered het,” vertel Cindy.

“Ek’t my lewe aan musiek gewy, en musiek het sy lewe aan my toevertrou.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe