MOET-HOOR

PURE COENIE: COENIE DE VILLIERS

Dis Coenie soos ons hom ken – liedjies wat soos gedigte klink en daardie stem wat jou laat verlang na ’n vuur waar jy saam met vriende sit en kuier en luister.

Op dié album, belowe hy, is daar geen “baby, baby” nie; eerder ’n eerlikheid in sy kyk om hom. In hierdie wêreld is onder meer ’n boer wat wag op die reën (Plaas) en ’n wiegeliedjie vir oorlede Lucas Maree se kleindogter Luca.

Dis ’n album so reg in die smaak van Coenie se jare lange aanhangers.

– Elna van der Merwe.

Sommer vir die nostalgie



Speellys

Reisiger – Refentse

Refentse se stem sal jou op ’n reis wegvoer en jou siel voed in dié diepdinksnit van sy nuwe album, Liefde-generasie. Jy móét dit hoor.


Rooilipsoene – Karlien van Jaarsveld

Dié enkelsnit sal jou laat hunker na die liefde – dit vier trouens die liefde. G’n wonder haar man, Joe Breytenbach, wys in die video gesig nie.


Electricity – Silk City & Dua Lipa

Dié aansteeklike dansliedjie is vuurwarm, maar die Flashdance-geïnspireerde video waarin Dua deksels sexy danspassies doen, kook nog meer!


Promises – Calvin Harris & Sam Smith

Dié klubvriendelike, sielvolle popliedjie is ’n lusmaker vir wat ons kan verwag wanneer die Britse sanger Sam Smith in April hier ’n draai maak op sy Thrill of It All-toer.


Drive – Black Coffee & David Guetta

Die Franse DJ span kragte saam met ons eie Black Coffee vir dié radiovriendelike pophouse-snit waarin die Londense sangeres Delilah Montagu sing. Die lirieke is niks om oor huis toe te skryf nie, maar die ritme is aansteeklik.