Ontmoet die Snobs

Vernette en Marius Wessels van Mosselbaai het in 2009 afgehaak nadat hulle mekaar op ’n kerkkamp ontmoet het. Hul debuutalbum, Aroma, is in 2016 uitgereik.

Vernette is die liedjieskrywer en hoofsangeres van die tweestuks; Marius is die agtergrondstem en baskitaarspeler.

Toe hulle destyds ’n naam vir die groep moes kies, het die naam Coffee Snobs eintlik so half spontaan gebeur, vertel Marius.

“Ons hou van koffie, veral ná ’n braai, maar dit moet ’n goeie koffie wees. Wanneer ons koffie aangebied word, sal Vernette altyd eers vra watter soort koffie dit is. So het ons die spotnaam ‘koffiesnobs’ onder vriende gekry.”

Wat om te verwag

“Die titel van die album weerspieël die tema van lig wat deurlopend voorkom,” verduidelik Vernette.

“Dit gaan oor dinge wat met ons en ander mense gebeur. Die liedjies word dus geïnspireer deur tye van donker en lig, trane en lag, die wind, die see en die stilte.”

Wanneer sy lirieke skryf, het die woorde altyd betrekking op iets in haar lewe in daardie spesifieke stadium, sê Vernette.

Die wysie kom gewoonlik eerste, waarna sy lirieke skryf wat by die emosie van die melodie pas. “Maar dit is vir ons belangrik dat die lirieke betekenisvol is.”

’n Storie van hoop

In 2011, twee jaar ná hul troue, is kolonkanker by Marius gediagnoseer. Hy het intussen ten volle genees, maar dié moeilike tyd het emosionele letsels op die paartjie gelaat.

Uit dié ervaring het Vernette die liedjie Noudat die Lig op Jou Skyn geskryf, wat die nuwe album se openingsnit is.

Wanneer ’n mens swaargekry het en heel aan die ander kant uitkom, moet jy dit met ander deel, glo sy. “So kan jou omstandighede weer iets goeds vir iemand anders beteken.”

VUURWARM ENKELSNITTE

Halsey – Alone

Ons kan nie genoeg kry van die Now or Never-sangeres se bekorende stem nie.

Alone was een van die beste liedjies op die 23-jarige Amerikaner se tweede album, Hopeless Fountain Kingdom, wat verlede jaar uitgereik is.

En dié nuwe weergawe van die oulike danspopliedjie, saam met die rappers Big Sean en Stefflon Don, is omtrent ’n oorwurm.

– Lara Atson

Liam Payne & J Balvin – Familiar

Die 24-jarige One Direction-ster span vir sy nuwe snit kragte saam met die Colombiaanse reggaeton-ster J Balvin, wat verantwoordelik was vir die wegholtreffer Mi Gente.

Op die liedjie word Latynse ritmes met R&B-klanke gekombineer. J Balvin sing ook in Spaans, sy moedertaal.

Tog kan dit geensins kers vashou by die aansteeklike energie van Mi Gente nie.

– Lara Atson

Ariana Grande – No Tears Left To Cry

Dis die Side to Side-sangeres se eerste nuwe liedjie sedert 22 mense in Mei verlede jaar in ’n terreuraanval tydens haar optrede in Manchester gesterf het.

Maar ten spyte van die oënskynlik swaarmoedige titel is dié nuwe uitreiking geen hartseer affêre nie. Dis ’n sorgelose danspopliedjie wat jou voete sal laat jeuk.

– Lara Atson

Resensie

Gerhard Steyn – Mooiste Duette

’n Versamelalbum met 17 snitte waarop Gerhard duette saam met onder andere Nádine, Anaïs, Richard van der Westhuizen, Wynand Strydom en Helenè Bester sing.

Richard se Ballade vir ’n Enkeling en Tussen Treine is besliste hoogtepunte, en die Legendes Keurspel saam met die Campbells sal sokkieliefhebbers na die dansbaan lok.

Die album sluit heelparty goue oues in. 3/5

– Jaco Hough-Coetzee