’n Droom word waar

Kelsea (25) het al in 2017 aan iHeartRadio verklap sy wil graag met die EDM-popduo The Chainsmokers saamwerk. Toe sy haar kans kry, was hul duet, This Feeling, so ’n oorwurm, dit het op trefferlyste oor die hele wêreld geboer – van Australië tot in Japan!

Ma se kind

Haar ma, Carla, is haar grootste ondersteuner en die inspirasie vir die eerste liedjie wat sy op 12 geskryf het. Sy’t vergeet om vir haar ma ’n Moedersdaggeskenk te koop en het toe die snit Oh Mama vir haar geskryf. En natuurlik het dit haar ma tot trane gedryf!

Smoorverlief 

Kelsea het in 2017 met haar medecountryster Morgan Evans (33) afgehaak. ‘Een jaar verby en nog ’n miljard om te gaan,’ het sy onlangs op hul huweliksherdenking in die sosiale media gekoer. ‘Ek raak elke dag net liewer vir jou’ Te oulik!

Treffermasjien 

Die boorling van Knoxville, Tennessee, se deurbraak was in 2015 met haar debuutalbum, The First Time. Dit het die no. 1-treffer Love Me Like You Mean It opgelewer. Sy is ook onlangs vir ’n tweede keer vir ’n Grammy benoem: Haar opvolg, Unapologetically, is as beste countryalbum benoem.

Gunsteling liedjie 

Haar hart vermurwe elke keer wanneer sy Somewhere over the Rainbow van haar gunstelingfliek, The Wizard of Oz, hoor. ‘Dis so klassiek, perfek en tydloos,’ sê die Peter Pan-sangeres.

Koormeisie

In haar grootwordjare was sy die leier van hul kerk- en skoolkoor. Toe sy 15 was, het haar gesin na die countrymekka Nashville verhuis sodat sy ’n musikant kon word. Tog was dit nie altyd haar droom nie, bieg Kelsea. Sy wou eintlik ’n veearts word.

Bronne: People.com, YouTube, IMDB, Soundslikenashville.com, Billboard.com, Popculture.com, Hollywoodreporter, The Boston Globe