Die krag in weerloosheid

Lucinda, wat bekend is as die hoofsanger van die musiekgroep Die Melktert Kommissie, se eerste solosnit, “Weerloos”, is ’n kontemporêre rockballade met ’n sielkundige ondertoon wat beskryf hoe ’n weerlose proses dit is om iemand anders toe te laat om dieper te delf in wie jy is.

“Dit geld in alle verhoudings: met ’n geliefde, met jouself of met jou naaste,” vertel Lucinda (34).

Elkeen moet hulfself in tye van alleenwees herontd
Elkeen moet hulfself in tye van alleenwees herontdek, veral tydens die inperking, glo sy. Foto: NDW Photography

Die musikant Bouwer Bosch het vir haar die musiek in April gestuur en gevra of sy dit wil gebruik, waarna sy die lirieke geskryf het.

Ek is weerloos, maar ek is nie hopeloos nie, sing sy onder meer.

“As jy weerloos is, beteken dit eintlik jy is sterk aangesien jy dan in voeling met jou eie menswees is,” verduidelik sy.

Die musiekvideo

In die geanimeerde musiekvideo van Lucinda se enkelsnit verken twee papierpoppe mekaar se menswees deur ’n flitslig op mekaar te skyn. In dié ontdekkingstog, in die lig van die flits, leer hulle mekaar dieper ken.

Lucinda het self die video geskep deur ’n raam-vir-raam-animasie-app op haar selfoon te gebruik.

Sy het eers die twee poppies gemaak en toe vir hulle ’n soort verhoog op haar koffietafel gebou.

Sy was self veranwoordelik vir die skep van die pa
Sy was self veranwoordelik vir die skep van die papierpopkaraktertjies in die musiekvideo. Foto: NDW Photography

Om beweging te skep, het sy 1 601 foto’s van die poppe geneem terwyl sy hul ledemate met elke foto ’n paar millimeter geskuif het. Die saamlas van die foto’s, wanneer dit as een geheel gespeel word, skep dan die effek van ’n gladde beweging.

In ’n neutedop

Lucinda was 16 jaar oud toe sy en drie van haar vriende in 2002 die akoestiese popgroep Die Melktert Kommissie gestig het met haar as die hoofsanger en liedjieskrywer.

Hulle het in dieselfde jaar die destydse nasionale Jip-Rockspaaider-kompetisie gewen.

In 2009 het die Terte ’n blaaskans gevat, maar hulle het weer in 2017 met optredes begin.

Hul laaste enkelsnit, “Weier”, is verlede jaar uitgereik.

Lucinda en Bouwer het ook verlede jaar kragte saamgesnoer met die uitreiking van die duet-album Waar die see die kus omhels, waarmee hulle landwyd getoer het.

Lucinda hou ook haar lyf pilates-instrukteur.

Sy bied nou virtuele klasse vanaf haar huis in Linden, Johannesburg, aan.

Nog ’n talent wat sy het, is realistiese pensketse wat sy op aanvraag teken. Sy beplan ook ’n moontlike uitstalling later vanjaar. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe