Die Melktert Kommissie se Lucinda het pas haar eer
Die Melktert Kommissie se Lucinda het pas haar eerste soloalbum uitgereik. Foto: Picture me&u.

Dís wat jy kan verwag 

In 2019 was daar die kortspeler saam met die musikant Bouwer Bosch, Waar die see die kus omhels, en in 2020 het sy haar eerste solo-enkelsnit, “Weerloos”, uitgereik. 

Dié liedjies het gebars met die belofte wat Lucinda, hoofsangeres van Die Melktert Kommissie, as solokunstenaar kon bied – en luisteraars was gaande. 

Hoewel sy aanvanklik ’n meer organiese en gestroopte klank vir haar eerste soloalbum, Uitgeskryf, in gedagte gehad het, het dinge op ’n natuurlike manier tydens die produksieproses ontwikkel.

‘Daar is nogal baie hartseer goedjies op die album, maar ek hoop ook dat dit hoop vir die luisteraars skep’

Sy het vroeër vanjaar die album saam met die musikant Wesley van der Westhuizen opgeneem en vervaardig. 

“Ek en Wesley het baie tyd aan elke liedjie bestee, en terwyl ons daarmee gewerk het, het elke liedjie iets anders gevra,” verduidelik Lucinda (35). “Ek het net gedink ek gaan my hart volg met elke liedjie en probeer doen waarvoor dit vra,” sê sy. 

Die eindproduk is 10 liedjies met ’n meestal opgewekte ritme en popgevoel. Daar is selfs ’n prettige liedjie, “Jou grap”, saam met die 7de Laan-aktrise Mila Guy. 

’n Meer akoestiese aanslag syfer wel ook deur, veral in liedjies soos “Kwaadpraat”, “Rede vir vrede” en “Ons is ons”, ’n duet saam met die Klopjag-hoofsanger, John-Henry Opperman.

Stories van hartseer en hoop 

Dinge in haar persoonlike lewe oor die afgelope twee jaar het Lucinda genoop om “vreeslik baie” te skryf, kuns te maak en introspeksie te doen. 

“Ek het net begin voel ek moet dit met mense deel en my lewe weer meer kreatief inrig,” sê die sangeres.

Sy het in Desember verlede jaar die liedjies die eerste keer met ’n gehoor gedeel waar sy balpuntpenkunswerke uitgestal het wat by elke liedjie, gedig en kortverhaal pas.

 

“In 2019 is my ma skielik oorlede, en dit het ’n baie groot impak op my lewe gehad. Ek het daarna baie geskryf en baie dinge ondersoek in myself en in my lewe,” sê Lucinda.

“Dit is die ding van hierdie album: Daar is nogal baie hartseer goedjies daarin, maar ek hoop ook dat dit hoop vir die luisteraars skep.” 

Hiermee kon die opgewekte ritme en vrolike melodieë deurgaans help, veral in die snit “Meer as die reën”, wat sy vir haar ma geskryf het.

Toekomsplanne 

Vir die stoere Melktert-aanhangers is daar nog goeie nuus. Benewens dié musiekgroep se twee enkelsnitte in 2019, “Weier” en “Irrelevant”, glo Lucinda dat daar nog liedjies en vertonings in die nabye toekoms gaan wees. 

“Ek is so lucky. Die band is my grootste aanhangers en ek het konstant deur die album se proses vir hulle goed gestuur en vir hulle insette gevra,” sê Lucinda, wat in Johannesburg woon. “Hulle het steeds, soos altyd, ’n groot rol in alles wat ek met musiek doen.”

 

Die covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings maak dit ietwat moeilik om tans op te tree en met die ander lede, wat almal in die Kaap bly, bymekaar te kom.

“Maar ’n mens raak opgewonde oor musiek en shows en oor skryf en oor nuwe goed uitbring. En dit is die snaakse ding van skryf en musiekmaak: Dit is soos om ’n spier te oefen. Hoe meer ’n mens dit doen, hoe meer wil jy dit doen,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.