Wat om te verwag

Dié kitaarduo bestaan uit die Venter-sussies, Nicola (20) op melodiekitaar en Lindie-Lee (17) op baskitaar, van die Oos-Rand. Die tweestuks se derde album, Vanaand Dans Ons Weer, bevat 13 boeremusieksnitte.

Die danssnitte bestaan uit ou bekendes soos Die Kalfiewals en die Hantam Opskop, asook twee nuwe komposisies deur Nicola, naamlik die titelsnit en Waslap Vastrap.

Lindie, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Stoffberg, vertel sy komponeer glad nie, “want daar is nog te veel skoolwerk in my kop”.

Hulle wou iets vir elke smaak op die album insluit, verduidelik Nicola, vandaar die kontemporêre nommers soos Nic Stevens se treffer Jonk Bly. Die album word afgesluit met ’n bonussnit waar Pieter Smith ’n Afrikaanse keurspel sing.

Hul musiekpad

Nicola en Lindie het in ’n musiekhuis grootgeword. Hul pa, Hennie, is ook ’n kitaarspeler en was destyds leier van die Vasvatdansorkes. Ma Rachel was die tromspeler, en die meisies het saamgegaan wanneer daar oor naweke iewers gespeel is.

Nicola was so sewe jaar oud toe sy haarself op ’n “klein blikkitaartjie” leer speel het, en toe Lindie nege was, het sy die baskitaar onder die knie gehad en in haar pa se orkes begin speel.

Die twee het in 2014 as Die Ventertjies begin saamspeel, en hul eerste album, Vlindervingers, is die jaar daarna uitgereik.

Sukses

Vanaand Dans Ons Weer pronk sedert Junie verlede jaar op verskeie trefferparades en is steeds een van Musica se top-40-verkopers.

In 2017 is Die Ventertjies se album Wikkel Vingers op die Satma (Suid-Afrikaanse Tradisionelemusiekpryse)-toekenningsgeleentheid as wenner aangewys in die afdeling beste boeremusiekalbum.

Hierdie album het ook ’n Ghoema-benoeming gekry in die afdeling beste tradisionele album. Nicola sê die erkenning wat hulle vir hul harde werk kry, laat hulle goed en dankbaar voel. 2019-planne Hulle is reeds vol planne vir die nuwe jaar.

In Maart toer hulle deur Namibië met 14 optredes in drie weke, wat opgevolg word met ’n Kaapse toer in Junie. Omdat sy nog op skool is, kan hulle net tydens skoolvakansies toer, verduidelik Lindie.

“Ander optredes word hoofsaaklik tot naweke beperk.”

Daar is ook ’n musiek-DVD in die vooruitsig.

Pretfeite
  • Nicola en Lindie-Lee het geen formele musiekopleiding nie, kan nie bladmusiek lees nie en speel op gehoor.
  • Nicola is al vier jaar in ’n verhouding met Nikki McBride, Die Ventertjies se klankingenieur.
  • Lindie “wil graag ’n aartappelboer ontmoet, want ek is mal oor aartappels!”
  • Tussen die twee kan hulle 12 instrumente bespeel.

Wen

Vyf lesers kan elk ’n kopie wen van die album Vanaand Dans Ons Weer.

SMS die woord VENTERTJIES, jou antwoord op die vraag, naam, e-posadres en adres voor 28 Februarie om 17:00 na 35407.

VRAAG: Hoeveel instrumente kan die sussies altesaam bespeel?