Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

HALLO WÊRELD, EK’S TYLA

Tyla het die musiekbedryf uitgeboul. Die musiekvideo vir haar debuuttreffer, “Getting Late”, is al byna ’n halfmiljoen keer op YouTube gekyk en meer as 10 miljoen TikTokkers het al gekyk na video’s waarin mense die #GettingLate-danschallenge op haar liedjie doen.

“Ek het regtig nie dié ontvangs verwag nie. Dis mal en ek is so dankbaar,” vertel Tyla in ’n Zoom-onderhoud met Huisgenoot.

Die jong sangeres het self die liedjie geskryf en die plaaslike DJ en musiekvervaardiger Kooldrink is die man agter die treffer se aansteeklike ritme. Die snit het twee betekenisse.

“Eerstens, is om geduld te hê. Wat verhoudings betref, wil ek dinge stadig vat, en ek wil hê my ou moet dit dan respekteer.”

Foto: Garth von Glehn
Foto: Garth von Glehn

En die ander betekenis?

“Ek vat altyd lank om myself reg te kry om iewers heen te gaan!” laat sy hoor.

Selfs die Amerikaanse vermaaktydskrif Paper het al oor die musiekvideo geskryf.

“Ek was so verbaas toe my bestuurder dit vir my sê. Ek ken Paper. Dis groot!”

TALENTVOLLE LIEDJIESKRYWER

Tyla skryf al haar eie liedjies. Dis ook hoe sy ontdek is.

“My bestuurder, Garth von Glehn, het op my Instagram Stories gesien hoe ek liedjies sing wat ek self geskryf het. Hy het my gekontak en daarna het ek hom en die musiekvervaardiger Kooldrink ontmoet.”

Tyla het in 2019 haar eerste liedjie saam met Kooldrink opgeneem.

“Dit was soos ’n proefliedjie. Ons het dit nooit uitgereik nie.”

Nou behaal hulle sukses met haar debuutliedjie, “Getting Late”. Kooldrink en Tyla is deesdae goeie pelle.

“Hy het my alles geleer van die musiekbedryf. Ek sien hom as my ouer broer.”

ÁL BEROEMDER

Tyla – haar regte naam is Tyla Laura Seethal – het van kleins af geweet sy wil eendag op die verhoog wees.

“Ek het altyd vir my gesin gesing en dans. Ek dink my ouers het geweet dis wat ek eendag wil doen,” vertel sy.

Haar gesin was lief daarvoor om musiek in die huis te speel, te maak en te dans.

“Omdat ek grootgeword het met byna elke musiekgenre, het ek ’n unieke klank, wat ek nou kan manipuleer om in verskillende genres te pas,” vertel Tyla.

Sy is deesdae beroemd danksy haar musiek en word oral op straat herken en voorgekeer vir ’n selfie.

“Mense wil foto’s van my neem. Ek raak nog daaraan gewoond.”

GROOTSTE ONDERSTEUNERS

Tyla is die middelste kind van haar pa, Sherwin, ’n rekenmeester, en haar ma, Sharleen, ’n eiendoms- en rolverdelingsagent, se vyf kinders.

“Ek het een broer en drie susters. Hulle is almal baie ondersteunend met my musiekloopbaan.

"My ouers was aan die begin bekommerd, want nie baie mense maak dit in dié bedryf nie. Hulle wou gehad het ek moes eerder ingenieurswese studeer, maar ek wou glad nie.

"Ek het toe net besluit om musiek te kies, want ek het geweet as ek dit nie doen nie, sal ek later spyt wees,” vertel sy.

TYLA SE GUNSTELINGE

Liedjie “Essence” – WizKid & Tems

Peuselhappie Doritos Flamin’ Hot Chips

Reeks Blood & Water 

Disney-fliek The Little Mermaid (1989)

Emoji Soms lag ek nie eens nie, dan stuur ek dit steeds.

“My ouers ondersteun my nou 100%. My ma is altyd by my vertonings, kies my uitrustings en maak seker dat my hele gesin in die gehoor is.

"My pa is my persoonlike Uber. Hulle is albei baie trots op my.”

SKOOL EN BYBELSTUDIE

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Die sangeres en liedjieskrywer het in 2019 aan die Hoërskool Edenglen in Johannesburg gematrikuleer.

“Aan die begin van my skoolloopbaan het ek nie eintlik soveel ingesit soos wat ek kon nie,” sê sy. “Maar later het ek harder begin werk en was toe onder die top-25-leerders.”

Tyla is nou besig met haar tweedejaar in Bybelstudie by haar kerk, Grace Place-Bybelkollege. Sy het nie planne om binnekort te begin studeer nie.

“Musiek is wat ek wil doen. As ek gaan studeer, sal ek iets kies wat my met die sakekant van die musiekbedryf kan help.”

SA SE EIE ARIANA GRANDE

Tyla was aanvanklik mal oor die musieksterre Beyoncé en Rihanna.

“Nou hou ek van Chloe X Halle. Ek is so mal oor hulle. Hulle is my gunsteling. Ek hou ook van Doja Cat en Ariana Grande, maar almal vergelyk my met haar,” sê sy.

Aanlyn noem mense haar gereeld die “Ariana Grande van Suid-Afrika”.

Foto: Garth von Glehn
Foto: Garth von Glehn

“Dis beslis ’n kompliment. Ek is baie lief vir Ariana, maar ons is in twee verskillende ruimtes. Ek maak Amapiano (’n soort house musiek) en sy maak popmusiek. Maar ek kyk op na haar. Sy is ’n ongelooflike kunstenaar en sangeres en ek hoop om haar eendag te ontmoet. Maar ek wil ook as sangeres in eie reg gesien word.”

Haar gunstelingliedjie van Ariana is “Fake Smile”.

HAAR TIKTOK-KLIEK

Tyla het in Februarie verlede jaar by TikTok aangesluit.

“Ek hou daarvan dat ek so baie mense van verskillende kulture en rasse reg oor die wêreld deur een app kan bereik,” sê sy.

Tyla deel gereeld video’s waar sy dans of sing op TikTok.

“En ek neem deel aan enigiets wat trend. TikTok is beslis my gunsteling-app op my foon.”

In die musiekvideo van “Getting Late”, wat in Johannesburg en Kaapstad geskiet is, dans talle plaaslike TikTokkers soos Matthew J Power, Chelsea Sloan Samuels en Jessica Mashaba.

“Ek’t hulle deur die app ontmoet en ons het goeie vriende geword. Ons het mekaar ook al voorheen ontmoet, en dis altyd lekker om saam met hulle uit te hang.

"Dit was lekker om hulle in die video te hê. My susters is ook in die video.”

TOEKOMSPLANNE

Sy werk tans aan ’n “spul nuwe musiek”, sê Tyla.

“Ek fokus vir eers op enkelsnitte. Ek wil dalk ’n binnekort ’n album uitreik.”

Sy wil ook nog musiekvideo’s van internasionale gehalte maak.

TYLA IN SYFERS

19 000+ YouTube-intekenaars

215 000 followers op Instagram

698 000 YouTube-kyke vir haar musiekvideo, “Getting Late”

9,6+ miljoen likes op TikTok

10,3 miljoen TikTok-kyke vir haar #GettingLate-danschallenge 


“Dis tyd dat ons musiek die aandag kry wat dit nodig het en verdien,” meen sy.

Haar droom is om musiek te maak saam met die plaaslike rapper Nasty C, Wizkid van Nigerië, die Kanadese treffermasjien Drake en Chloe X Halle (die Amerikaanse sangersusters Chloe en Halle Bailey).

“En beslis Ariana Grande.”

Tyla wil ook ’n internasionale ster word soos die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah.

“Trevor is my rolmodel. Hy het daarin geslaag om oorsee naam te maak, en dis iets wat ek graag wil doen.

"Wie weet? Dalk is ek een van die dae op The Daily Show with Trevor Noah,” laat sy laggend hoor. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe