Haar debuut

Sy het nog altyd van haar eie album gedroom, vertel dié prokureur van Bloemfontein.

Haar musiekloopbaan het vlam gevat nadat sy vanjaar die topvier gehaal het in die TV-sangkompetisiereeks The Voice South Africa. Caroline-Grace Brüssow – deesdae bekend as die sangeres Caroline Grace – se debuutalbum, Eindelose Liefde, is onlangs uitgereik.

My ALBUM????-"Eindelose Liefde" sal vanaf 20 Oktober beskikbaar wees. Wat is liefde...'n kraan wat aanhou loop. @umgsa

A post shared by Caroline-Grace (@carolinebrussow) on

“Ek het so lank daaroor gedroom, dit voel my ek kyk toe van buite af. Ek sien alles gebeur, maar dit voel onwerklik,” vertel Caroline (31).

Liedjies wil sy skryf

Groot name in die musiekbedryf soos Johan Vorster, Niel Schoombee, Vaughan Gardiner en Roux Cloete het die 11 snitte op haar album geskryf.

Daaronder tel haar enkelsnit Ek Bid vir Jou. “Ek skryf my eie musiek, maar dis nog nie naastenby op standaard nie,” sê sy.

Loopbaandrome

Sy wil nog lank in die musiekbedryf wees, sê Caroline.

“Ek hoop ek kan sing tot die dag dat ek nie meer kan nie.”

Sy bly om die beurt in Bloemfontein en in Japan, waar haar man, Heinrich Brüssow (31), vir die rugbyklub NTT Docomo Red Hurricanes uitdraf.

Hulle het juis uit Osaka hierheen gevlieg sodat Caroline aan die blinde oudisies vir The Voice kon deelneem. Ek Bid vir Jou is ’n ode aan Heinrich, met wie sy nou vier jaar getroud is.

“Ons ondersteun mekaar soveel moontlik, bly eerlik oor ons gevoelens en respekteer mekaar. Ons leer elke dag. Ons liefde kan alles oorkom,” vertel sy oor hul resep vir ’n gelukkige huwelik.

Sprake van ’n pienkvoet

Caroline is deesdae druk besig met haar musiekloopbaan, en sy en haar man beplan nie te ver vooruit nie. “Dis moeilik om presies te sê wat in die toekoms lê, maar kinders is vir seker nie buite die kwessie nie,” sê sy. “Alles op die regte tyd.”

I’ve got you babe??Koester die kosbare oomblikke.

A post shared by Caroline-Grace (@carolinebrussow) on

Kitsfeite
  • Sy is op haar gelukkigste by: Haar man, Heinrich Brüssow.
  • Caroline in drie woorde: Vasberade, passievol en objektief.
  • Die drie goed waarsonder sy nie kan leef nie: Haar borsel, tandeborsel en maskara.
  • Haar musiekinspirasie: Celine Dion, Whitney Houston, Kelly Clarkson, Katy Perry en Sia.
  • Sy wil die verhoog graag deel met: Plaaslik: Jo Black, Spoegwolf, Elandré Schwartz, Richard Stirton en Gavin Edwards. Internasionaal: Zayn, Ed Sheeran, Harry Styles of Josh Groban.


Resensies

AFRIKA 4 BEGINNERS

JACK PAROW

Waarskuwing: Moet liefs nie dié album vir jou ouma of kinders speel nie. Dis rof en onbeskof! Maar wat anders verwag jy van Suid-Afrika se ondeunde rapper?

Jack speel met techno, reggae en organiese klanke. Snitte met ’n vinnige tempo word afgewissel met rustiges, soos Vingerafdruk saam met Hunter Kennedy. 

  • Marizka Coetzer

FLICKER

NIALL HORAN

Terwyl die ander One Direction-manne allerlei musikale rigtings ingeslaan het, bly Niall op sy debuutsolo-album by radiovriendelike folk-popmusiek wat sag op die oor val. Hy het die liedjies self geskryf en bespeel feitlik op al die snitte self die kitaar. Hy sing meestal oor die liefde, soos op sy treffersnit Slow Hands. ’n Rustige luister-ervaring. 

  • Nici de Wet

Foto's: Universal Music, Instagram