Die sanger Ed Sheeran.
Die sanger Ed Sheeran. Foto: Instagram.

Die dansliedjie “Bad Habits” is Ed (30) se eerste enkelsnit van sy komende vyfde album.

Hy sing daarin oor ’n ongesonde leefstyl en die swak keuses wat mense maak. “Ek het dit in Januarie geskryf toe die album byna klaar was. Dit het geen liedjies opgehad wat mense sou verras nie,” het hy in ’n onderhoud met Radio 1 vertel.

“Mense sien my as ’n akoestiese sanger-liedjieskrywer wat ballades doen, en daar was baie daarvan. Toe gaan ek ateljee toe en maak iets heeltemal anders.”

“Bad Habits” was nie net ’n no. 1-treffer in lande soos Engeland, Australië en Kanada nie; dit het ook onlangs die gewilde K-popgroep BTS se nuwe liedjie “Butter” van die topposisie op die Amerikaanse Billboard Global-trefferlys afgestamp.

Die musiekvideo is al meer as 62 miljoen keer op YouTube gekyk sedert dit in Junie uitgereik is.

Dis geïnspireer deur sy liefde vir die TV-reeks Buffy the Vampire Slayer. In die video speel Ed ’n vampier in ’n skelpienk pakkie wat kan vlieg.

Sy rooi hare was ook blond vir die drie dae wat hulle daaraan geskiet het. “Ek vra verskoning vir al my mederooikoppe. Dit sal nooit weer gebeur nie,” het hy getwiet.

Ed het met die jare sinoniem geraak met jeans en flenniehemde. G’n wonder die tonge klap oor sy David Bowie-rige glinstergrimering, vampiervoorkoms en pienk pak in sy musiekvideo nie.

Op Twitter vergelyk mense dit met The Weeknd se jongste album, After Hours, toe die sanger as ’n naamlose antiheld in ’n rooi pak opgetree en in musiekvideo’s verskyn het.

Hy het dalk miljoene aanhangers, maar sy dogter, Lyra, is nie een van hulle nie, bieg Ed.

“Dêmmit . . . After Hours het reeds afstammelinge? Dis net ’n jaar,” het een getwiet.

“Ek is absoluut verpletter dat ek vir die volgende jaar gedwing gaan word om Ed Sheeran se swak Weeknd-nagebootste liedjie op elke radiostasie te hoor,” het nog een getwiet.

Die popster het sy benadering tot die lewe en werk verander sedert hy en sy vrou, Cherry, se dogter, Lyra, in Augustus gebore is. “Ek het meer begin oefen en my roetine het gesonder geword,” het hy al gesê.

Ed werk ook nou net van “nege tot vyf ” en maak nie tweeuur soggens met opnamesessies klaar nie.

Dit het veral musiekvervaardigers wat van laataand tot vroegoggend werk “die horries laat kry”, sê hy. “Maar ek voel jy kry meer gedoen.”

Hy het dalk miljoene aanhangers, maar sy dogter, Lyra, is nie een van hulle nie, bieg Ed.

“Sy huil net” wanneer hy nuwe liedjies vir haar sing.

Bronne: Thedailybeast.com,BBC.com, BBC Radio

Nog op ons speellys

Corlea – Haat

Dié plaaslike sangeres weet hoe om die hartsnare te roer met haar musiek. En haar jongste enkelsnit is geen uitsondering nie.

Corlea se stem bekoor weer in dié snit. Tyd om te groei. Tyd om te leer, ek het klaar gebloei, sing sy. Ek weet ek mag nie, maar ek haat, haat wat jy doen aan my.

Corlea se aanhangers kan nie genoeg kry van die liedjie nie. “Weer eens ’n pragtige lied waarmee baie van ons kan identifiseer!” het een op Facebook laat hoor. Die lirieke is diep en gaan die hart raak elke keer dat jy dit luister.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.