“Dis ’n wonderlike gevoel, nie net om weer iets nuuts uit te reik nie, maar dit is een van my eie liedjies waarvan die boodskap baie sterk is,” verduidelik Charlize aan Huisgenoot.

Die liedjie en musiekvideo vir Yster in die Vuur gaan oor die innerlike krag wat 'n mens binne jouself vind om enige hindernis of uitdaging in jou lewe te oorwin, sê Charlize. “Ek het gekies om dié boodskap uit te beeld deur ’n paar sterk, alledaagse vroue en meisies te nooi om saam met my na ’n plek van eerlikheid en volledige oorgawe aan hulself te gaan.”

Charlize het die idee ontwikkel saam met ’n vriendin en die verskillende dele is oor ’n paar dae by Follicle Hair Atelier se Hazeldean Photographic Studio deur Pierre Smith verfilm.

Charlize Berg
Foto: Verskaf.

“Die vroue breek weg van wat die samelewing van hulle wil hê of verwag wat hulle moet wees. Dit skep ’n oomblik van verlossing om te wees wie hulle werklik is – hul ware en eerlike self,” sê Charlize.

Yster in die Vuur is die eerste oorspronklike musiek wat Charlize uitreik sedert die geboorte op 17 April verlede jaar van haar en manlief, Warren Linden, se eersteling, Aleiah-Rose, oftewel Allie soos almal haar noem.

“Musiek sal altyd een van my grootste passies bly, maar ek het nooit kon dink watter vervulling en geluk ouerskap vir ’n mens kan bring nie.”

Charlize vertel klein Allie het nie net soveel meer betekenis aan haar eie lewe gebring nie; sy het ook haar uitkyk op musiek verander. “Alles wat ek nou aanpak en doen, vorm deel daarvan om vir haar ’n voorbeeld te wees en haar eendag te kan inspireer,” sê sy.

“Dis nie altyd maklik om 'n ma te wees in so 'n besige bedryf nie, maar die aanpassing was alles die moeite werd.” Haar gesin is nou Charlize se grootste vervulling, en om boonop nog musiek te kan maak, is die kersie op die koek, voeg sy by.

Charlize Berg
Foto: Verskaf.

Charlize het die liedjie saam met haar tweelingbroer, Jake Burg, geskryf en sy werk deesdae daaraan om haar eie liedjies te skryf. “My nuwe album sal nog hopelik vanjaar uitgereik word. Ek wil my eie stories vertel en ek sien uit daarna dat ander my nog beter kan leer ken.”