“Ons dink nie daar is iemand in Suid-Afrika wat nog nie een of ander herinnering van Pretoria het nie,” verduidelik Wynand Delport, Anders se kitaarspeler en sanger.

Die liedjie gaan oor sy vrou, Lindi, wat die hoofsanger is van die groep, se lewe en ervarings van die Jakarandastad waarin sy gebore en getroud is. “Ons bring hulde aan die stad en sing oor ons herinneringe; goed en sleg. Maak nie saak waar ons opeindig nie, Pretoria sal altyd ’n spesiale plek vir ons wees,” verduidelik Wynand.

Die lied ’n lekker 80’s pop/rock gevoel en die musiekvideo is oor twee dae op ’n gebou in Kerkplein en in Brooklyn onder Jakaradabome verfilm. “Ons wou pret hê en ons wou hê die luisteraars moet saam met ons pret hê,” vertel Wynand.

Hoewel die liedjie, en opkomende album, ’n meer sekulêre gevoel het, probeer Anders steeds ’n positiewe boodskap in al hulle liedjies oordra. “Ons probeer mense inspireer om lief te hê, groot te droom en nooit op te gee nie,” sê Wynand. Daar is wel een geestelike liedjie op die nuwe album wees, want dit is immers ’n groot passie, verklap hy.

Die paartjie vertel dat hulle as kunstenaars baie oor die jare gegroei het, maar net nie van die rock-klank af kan wegbly nie. “Die elektriese kitaar speel ’n massiewe rol juis omdat ons daardie lekker 80’s gevoel wou hê. Ek dink hierdie gaan my gunstelingalbum wees omdat ek so lekker met my verskillende kitaarklanke kan rondspeel,” sê Wynand.

Veel meer oor die nuwe album kan hy nog nie nou verklap nie, maar sê wel dat hulle hopelik weer so vinnig moontlik in die studio kan wees om nog aan een of twee liedjies te skaaf en te werk. “Liefdjieskryf is maar ’n proses en omdat ons alles self skryf, moet ons partykeer ons tyd vat om seker te maak ons lewer ’n produk van die beste gehalte,” vertel Wynand, wat ook al vir baie jare ’n musiekvervaardiger is. 

“Ek vervaardig nog al Anders se albums, maar kitaar sal altyd my eerste liefde bly,” bieg Wynand.