Sy het Donderdagoggend die musiekvideo van haar nuwe enkelsnit, Is Jy Spyt?, uitgereik.

Irene-Louise (26) en Nick (36), soos hy genoem word, het op 30 September afgehaak en toe hul wittebrood by die Bakubung Bush Lodge in die Pilanesberg deurgebring. “Dit was so lekker om rustig te wees ná ’n rowwe September met liedjies opneem, die troue reël en die musiekvideo skiet,” vertel Irene-Louise.

“Ek wil teruggaan,” sê sy toe sy aan die besige tyd dink wat voorlê. “Dis nou effens moeilik omdat ek ’n week weg is op toer en voor ek terugkom, vlieg Nick oorsee vir werk,” sê Irene-Louise, wat ook saam met die sosialemedia-persoonlikheid Craig du Toit Nel toer.

Is Jy Spyt? is deur Riana Nel geskryf en gaan oor ’n verhouding wat moontlik op die rotse gaan beland. “Ek sing altyd oor dinge wat ek al ervaar het; dus sing ek altyd uit my hart,” verduidelik Irene-Louise wie se eie liefdesvlam nou vuurvarm brand.

View this post on Instagram

Hubby ?? Wifey

A post shared by I R E N E - L O U I S E (@irene__louise) on

“Niks het regtig verander nie. Ons is nou net nog meer opgewonde oor alles wat die toekoms inhou,” sê sy oor die huwelik. 

Aanhangers sal steeds in haar nuwe musiek haar “lus vir die lewe” hoor. “Maar die musiek is dalk nou 'n bietjie meer volwasse,” voeg sy by.

View this post on Instagram

#IsJySpyt musiek video is oppad. #HouDop #IL

A post shared by I R E N E - L O U I S E (@irene__louise) on

“Mense gaan mal wees oor Is Jy Spyt?, want hulle sal aanklank vind by die lirieke en die ‘pam-pam-pam’ van die musiek sal hulle intrek,” sê sy.

Die nuwe liedjie is een van drie wat sy nou uitreik. Sy werk ook aan ’n nuwe album wat hopelik binnekort op die rakke sal wees.