Len Muller, oorspronklik van Richardsbaai in KwaZulu-Natal, het reeds 10 musiekvideo’s op sy kerfstok, maar Sterrewals is die eerste lied wat hy geskryf het saam met sy vrou, Chanél, kort nadat hulle afgehaak het, vertel hy aan Huisgenoot.

“Dit is ‘n nostalgiese liefdeslied geskryf uit die oogpunt van ‘n bejaarde man wat op sy lewe terugkyk. Drome word nie altyd waar nie, veral as jy nie doelbewus daarvoor werk nie, en ek dink die lied wil my en luisteraars uitdaag om doelbewus te lewe en nie toe te laat dat tyd sommer net verbygaan nie,” sê Len. 

Volgens die 35-jarige het dié lied ook ‘n mooi boodskap omdat die paartjie eintlik vir mekaar sê al het hul planne nie almal uitgewerk nie, is hulle steeds vir mekaar genoeg.

Die musiekvideo speel af teen die skilderagtige agtergrond van Kaapstad en wys dele van die prentjiemooi Noordhoek, Kirstenbosch en Kaappunt. 
Len sê die pragtige natuurskoon van die Kaap was die inspirasie vir dié video, waaraan hulle twee dae geskiet het. “Ons wou iets opregs en eerliks maak wat ook visueel pas by die emosie van die lied.” 

KYK VIDEO: 

Hy verklap dit is die eerste stadig-bewegende musiekvideo wat hy gemaak het en selfs dié uitdaging het sy hoogte- en laagtepunte gehad.

“Die hoogtepunt was om ’n naweek saam met my swaer Leslie van Wyk in die mooi Kaap deur te bring by van die mooiste plekke,” meen hy. En die laagtepunt? Toe hy daar moes wegggaan! 

Len het in 2008 sy heel eerste lied, Red My, vrygestel en Sterrewals is sy nuutste van die 10 musiekvideo’s wat hy al die lig laat sien het. “Sterrewals is my gunsteling omdat dit uitbeeld wie ek self is as kunstenaar, nie wie mense vir my sê ek moet wees nie,” sê hy. 

Die romantiese sanger meen die liefde inspireer hom gereeld, maar benewens dit is daar ook ‘n paar pretfeite wat Len met ons gedeel het.

Ek is allergies vir suiwel 

My vriende en familie sê ek is baie ‘clumsy’

Ek het net ná skool per ongeluk begin ballet doen en mense het gesê ek was eintlik nogal goed. Maar toe kies ek musiek.

Ek het my Noord-Natalse kleure in lyfplankry (bodyboarding)

My middelname is Barend en Johannes

  • Vir meer inligting oor dié bedrywige sanger se projekte, hou sy webtuiste dop by www.lenmuller.co.za