’n Paar sekondes later open die warm stemme van Claire Johnston en Kurt Darren die liedjie met die woorde: Joseph’s face was black as night.

Die twee sing moeiteloos verder terwyl die musiekgroep ritmies op die agtergrond speel. Dis Mango Groove se weergawe van Paul Simon se Under the African Sky. En nadat hulle die video amper twee jaar van hul aanhangers weerhou het, is hulle eindelik reg om hul meesterstuk te deel. 

Die Suid-Afrikaanse Afropop-groep en die Afrikaanse sanger is ’n onwaarskynlike kombinasie, maar die stemme werk baie goed saam. 

“Ek ken Claire al jare lank,” sê Kurt.

“Mango Groove is deel van Suid-Afrikaners se lewe. Dit was ’n eer om die liedjie saam met hulle op te neem en ek was uiters gevlei toe hulle my nader.”

Vir die legendariese groep was daar geen ander keuse as Kurt nie, sê Claire toe sy uit Johannesburg met ons praat. 

“Ons het ’n wenslysie saamgestel van kunstenaars saam met wie ons wou werk. Kurt was heel bo,” sê sy.

“Hy het die stem van ’n engel. Hy is skerp, hy konsentreer en hy kry dit net reg.”

John Leyden, stigterslid van Mango Groove, het Kurt in 2015 gebel en die sanger was sommer dadelik vuur en vlam. 
Die video is laat die volgende jaar in Skills Village 2030, ’n opleidingsentrum in Johannesburg, verfilm en binne drie opnames was alles afgehandel. 

Dit is duidelik die beeldmateriaal is moeiteloos geskiet. Kurt voeg by almal het goed saamgewerk. 

“Wanneer jy ’n duet sing, is dit hoe dit gedoen moet word! Alles het net volmaak gewerk.”

En moet dit nie waag om Kurt se ongewone oorskakeling van gewilde Afrikaanse musiek na ’n genre wat pop en township-musiek saamvoeg, te bevraagteken nie. Vir hom is musiek ’n universele taal. 

“My gehoor is nou wel Afrikaans; daarom neem ek meesal in Afrikaans op. Maar ek sing wat vir my mooi is. 

“Engels of Afrikaans, musiek is ’n universele taal.”