Die snit is baie persoonlik vir haar, vertel Samantha. Sy het self die liedjie geskryf en meen dis ’n refleksie van haar hart en waar sy in hierdie stadium van haar lewe is.

“Daar is duisende keuses voor ons neergelê in die lewe en dit is ons verantwoordelikheid om die regte besluite te maak wat ons toekoms gaan bepaal.

Partykeer maak ons die verkeerdes en kry baie seer daardeur, maar dis hoe ons weer opstaan wat saak maak en wat ons uit daardie foute leer,” sê sy aan Huisgenoot.

’n Duisend Keuses, die titelsnit van haar debuutalbum, herinner haar hoekom sy hou van sing en hoe dit haar inspireer en laat voel. Sy’t nie musiek gekies nie, dit het haar gekies, sê sy.

“Dis wie ek is, dis in my bloed, en dis die enigste ding wat my motiveer om nooit op te gee wanneer dit by my drome kom nie. Dit is vir my ’n voorreg om my storie, deur middel van musiek, met die wêreld te deel,” vertel Samantha oor haar eerste enkelsnit wat pas vrygestel is.

KYK VIDEO: 

Sy wou van kleins af sangeres word. “Ek het op die ouderdom van drie begin sing en geweet dis wat ek vir die res van my lewe wil doen,” vertel Samantha. Al wat haar gekeer het om heeltyd te sing was slaaptyd en etenstyd.

“Ek het as kind geglo dat ons almal op hierdie aarde geplaas was om te sing. Dit was al van die begin af in my hart gegraveer,” vertel dié boorling van Kimberley in die Noord-Kaap.

“Liefde is my fondasie met alles wat ek in die lewe aanpak,” sê sy. “Sonder liefde is ons niks. Ons almal kort liefde en dis al wat ons deur moeilike en goeie tye bring. Om iemand lief te hê, gee jou krag, terwyl jy iemand lief het, gee jou moed.”

So gepraat van liefde, is daar iemand spesiaal in haar lewe? Ja, bevestig sy, maar meer wil sy nie oor dié liefie verklap nie. 

Musieksterre soos Corlea Botha inspireer haar as musikant. Sy wil juis graag eendag met Corlea werk. 

Die hoogtepunt in haar loopbaan sover is haar deelname aan die sangreeks The Voice in 2017 waar sy derde geeïndig het.

Die ander hoogtepunt vertel sy is die feit dat sy nou die voorreg het om haar heel eerste soloalbum, ’n Duisend Keuses, nou aan die wêreld kan bekend stel. Dit tref een van die dae die rakke.

En die laagtepunte?

“Die laagtepunt in my loopbaan is eintlik iets waarmee ek elke dag wakker word, die feit dat ek my ouers agt jaar gelede moes verlaat in my tuisdorp, Kimberley, om na die groot stad te trek om’n sukses van my sangloopbaan te maak waar daar meer geleenthede is. Ek smag elke dag na die voorreg om my familie meer te kan sien en tyd saam met hulle te spandeer,” vertel sy. 

Samantha wou van kleins af sangeres word. Foto: Fathom Media

Vir nou wil sy net hard werk om haar drome te verwesenlik. En sy wil aanhou doen waarvoor sy lief is: sing en musiek maak.

Vyf kitsfeite oor Samantha:

  • Sy hou daarvan om daagliks mense om haar te laat lekker lag met grappies en haar spontane persoonlikheid.
  • Een van haar grootste uitdagings is om soggens spek te probeer maak. “Dit is vir my soos ’n gevaarlike sport met al die warm oliespatsels wat skiet,” skerts sy.
  • Sy is glad nie ’n oggendmens nie, verklap sy.
  • Om soggens ’n uitrusting te kies is vir ’n groot uitdaging. “Ek kry partykeer my kamer so jammer met so massiewe ontploffing wat dit tref,” sê Samantha..
  • “Ek glo sterk sushi (soesji?) was net vir my uitgedink. Ek en Sushi (soesji) is beste maatjies en ons kan lang ure met mekaar spandeer,” vertel sy.