Die liedjie met sy ruk-en-rol-ritme vertel ’n storie van ’n meisie wat nie haar waarde raaksien nie, maar hy verseker haar sy is volmaak in sy oë. 

"Die lied lê my na aan die hart, want dit verwoord presies hoe ek voel wat die boodskap moet wees in elkeen se hart," vertel PJ aan Huisgenoot.  

Met dié snit wou hy die boodskap oordra dat daar vir elke pot 'n deksel is en iemand jou sal liefhê ten spyte van jou tekortkomings.

"Elkeen is iemand se 12 uit 10,” sê PJ, wat die top-6 in die tweede seisoen van die plaaslike sangreeks The Voice South Africa gehaal het. Hy glo die inspirasie agter die liedjie, wat deur die musikant en liedjieskrywer Renier Bester geskryf is, is Renier se vrou. 

"Ek is dankbaar vir die geleentheid om sy woorde te kon leen, juis omdat ek so aanklank vind daarby," vertel die sanger, wat op Sasolburg gebore is en op Secunda in Mpumalanga grootgeword het.

Wat was die hoogtepunt van sy eerste musiekvideo skiet? "As ek iets moet uitwys sal ek sê dit was om te sien hoe die hele konsep in mekaar vleg,” sê hy.  

Die musiekvideo is by die Silver Fig Guesthouse in Mooiplaats, Pretoria-Oos, geskiet. PJ sê Luther van der Watt van AVC Studios het briljante werk gedoen en sy vinger op die pols gehou. "Hy het presies geweet wat om te sê en doen om dinge so vlot moontlik te laat gebeur,” vertel PJ.

En laagtepunte? PJ kon vinnig een uitwys en meen warm badwater en sweetbestande grimering is nie maats nie. "Ek is gepoeier dat ek weet ek is gepoeier!” skerts hy.

Hy kon ook nie uitgepraat raak oor hoe trots hy op die bekendstelling van sy eerste musiekvideo is nie. “Ek voel ongelooflik trots en opgewonde om die geleentheid te hê om die boodskap oor te dra en is natuurlik baie dankbaar," sê hy.

"Die toekoms lyk blink en besig, maar dit is hoe ons daarvan hou," sê hy. Ten spyte van sy besige rooster, is hy ook dankbaar vir sy span wat bankvas agter hom staan.

"My span werk hard om nog meer van dié goeie vibes tussen die mense in te stuur."