Lag ’n slag

Die flambojante Fatman, oftewel Johannes Brümmer, geniet dit om mense te vermaak en te laat lag.

“As ek jou vir die eerste keer ontmoet, is dit die eerste ding wat ek wil doen,” vertel dié 41-jarige musiekonderwyser van Bela-Bela (Warmbad) met sy kenmerkende harderandhoed.

“Ek wil jou laat lag. Ek het mense nog altyd deur komedie probeer verstaan en leer ken.”

Sy album, Boom Baby, bevat snitte wat jou sal laat lag, huil en lekker dans. Die titelsnit was sy eerste enkelsnit.

“Dit gaan oor mamma en pappa wat op date night gaan, die kinders by ouma los en net pret het.”

Sy musikale reis

“Ek geniet dit om saam met ander kunstenaars te werk. Met die nuwe album het ek ’n verskeidenheid mense betrek,” sê hy. Hieronder is Pieter Smith, ’n sanger wat Fatman nog altyd bewonder het.

“Ek het Leon Schuster betrek om ’n komiese element te skep. Ons het altyd lekker gelag vir sy liedjies.”

Fatman sing Jannie du Toit se liedjie Liedjie vir Jou saam met Caroline Grace, wat ook ’n finalis in The Voice South Africa was.

“Min mense sing eintlik die liedjie, en dit is so ’n mooi song,” sê Fatman.

Ook op die snitlys is sy en Kahn Morbee van The Parlotones, sy mentor in The Voice, se balladeweergawe van Kurt Darren se treffer Kaptein, waarmee Fatman op die sangreeks bekendheid verwerf het.

“Dit was ’n groot eer om die liedjie saam met Kahn te sing. Hy het die song gekies toe ek in The Voice opgetree het.”

Sy ‘sonneblomgesiggies’

Een van die snitte op sy album, Sonneblomgesiggie, is spesiaal geskryf vir sy twee kinders, Sanrico (16) en Pedri (12).

“Elke vers handel oor een van hulle. Dit is hulle wat my ingeskryf het vir The Voice,” vertel Fatman. “Aan die begin wou ek nie deelneem nie, maar ek het dit toe gedoen om hulle gelukkig te hou – en kyk waar is ek nou.”

Sy seun, Pedri, woon steeds saam met sy vrou, Susan, op Bela-Bela, waar hy sy laerskoolloopbaan voltooi. Fatman en sy dogter, Sanrico, woon in Pretoria, waar sy aan die Hoërskool Waterkloof skoolgaan.

Kitsfeite oor Fatman
  • Die sanger geniet dit om in pandjieswinkels vir winskopies rond te snuffel.
  • Hy spot en sê toe hy destyds in die weermag was, het hy ’n no. 34-broek gedra. “Deesdae is ek ’n bietjie meer geset en dra ek ’n no. 54.”
  • Fatman is ’n versamelaar van formaat en moes ’n ekstra stoor laat bou vir al die wit olifante wat hy optel. “Ek sal enige ding vat, of dit nou ’n grassnyer is wat nie ’n enjin het nie of ’n luidspreker wat gebreek is. Ek sit met vier stukkende koffiemasjiene.”
  • Hy en sy vrou, Susan, staan as Fatti’s & Moni’s bekend, skerts hy. “Ek is vet en sy moan,” lag hy.
By Johannes is van links sy dogter, Sanrico, vrou, Susan, en seun, Pedri.

RESENSIES

SINKPLAAT SESSIES - REFENTSE

Refentse se jongste CD bevat ou gunstelinge en kraakvars snitte uit die pen van die geliefde Sothoman met die diep stem. Sy nederigheid word op dié akoestiese album vasgevang, en aanhangers kan uitsien na snitte soos Anoret, Oom Faan Se Plaas en Breyten Se Brief. Dit bevat ook ’n aangrypende Laurika Rauch-keurspel. Punt uit 5: 4. – MARIZKA COETZER

VILLAINS - QUEENS OF THE STONE AGE
****

Op hul sewende album neem die rockers hul kragtige mengsel van swaar rock, glam en prog na ’n nuwe vlak danksy die popvervaardiger Mark Ronson. Josh Homme se stem herinner ál meer aan David Bowie op sy beste, en Ronson se onbeskofte vermenging van melodiese elektriese kitare, elektroniese klanke en dansvloerritmes sal jou bybly. Speel dit hard. Punt uit 5: 4. – WILLEM MÖLLER