Die rocker Francois van Coke gaan binnekort die grootste vertoning van sy sololoopbaan aandurf en het ’n klomp uiteenlopende musiekvriende betrek om hom hiermee te help.

Francois en Karen het boesemvriende geraak toe hulle aan hul liedjie Toe Vind Ek Jou saamgewerk het. Foto: Instagram

Francois van Coke & Vriende, wat op 15 September in die Sun Arena in Pretoria plaasvind, sluit in ’n paar ou vriende saam met wie hy die afgelope 15 jaar in die musiekbedryf gewerk het, asook nuwes.

Coenie en Francois het onlangs saam ’n liedjie opgeneem. Foto: Instagram

Een van sy nuwe vriende is die musieklegende Coenie de Villiers, saam met wie hy onlangs ’n weergawe van Johannes Kerkorrel se Hillbrow opgeneem het.

Francois is ook bly die rockkoningin Karen Zoid sal deel van die vertoning wees. Hy sê hul treffer Toe Vind Ek Jou is ’n sentrale deel van die vertoning.

“Daardie liedjie was die grootste liedjie waarvan ek en Karen al deel was, en dit het soveel vir my loopbaan beteken.”