Hoekom het julle besluit om jul nuwe album die titel Can’t Stop te gee?

Wel, omdat Freshlyground ná 16 jaar en sewe albums steeds nie kan ophou musiek maak nie.

Wat was die inspirasie vir die enkelsnit Blck Grls?

Die boodskap van die liedjie is om getrou te wees aan jouself en wie jy is ten spyte van die blik waarin jy dalk gedruk word as gevolg van jou kultuur, ras, ekonomiese status of seksuele voorkeure.

In my grootwordjare is ek voortdurend vertel ek dra die verkeerde klere en moet my hare kam. Dan was ek te vet, dan weer te maer.

Dié dinge is gesê deur mense wat gedink het hulle doen die regte ding deur van my ’n “normale” swart Suid-Afrikaanse meisie te probeer maak.

Dit het my lank gevat om te besef hul bekommernisse oor my was eintlik weens hul eie vrese.

Wat kan ondersteuners van die nuwe album verwag?

Ons sal altyd soos Freshlyground klink, maar hou daarvan om met verskillende genres te eksperimenteer.

Dit het liedjies wat dalk meer in die popgenre is. Karen Zoid en (die Zimbabwiese musikant) Oliver Mtukudzi is ook op die album.

Hoe het dit gebeur dat die Sweedse vervaardiger Tore Johansson aan die album gewerk het?

Ons het hom genader nadat ons werk gehoor het wat hy saam met Franz Ferdinand en The Cardigans gedoen het.

Hy het van ons ongeredigeerde snitte gehou en vir ’n paar maande Kaap toe gekom. Ons het die grootste gedeelte van die album by die Academy of Sound Engineering in Woodstock opgeneem.

Waar kan aanhangers julle vind?

Gaan loer op ons Facebook- en Instagram-blad by @freshlygroundsa vir musieksessies. Of teken in op ons YouTube-kanaal.

ANGEL DE LANGE

Vat my terug

Dié album met sy 12 snitte is ’n moet vir aanhangers van countryrock. Van die nuutskeppings staan Ek Huil oor Jou en die titelsnit uit.

Verwerkings van ou treffers soos One Day at a Time, The Midnight Special en Black Coffee is ingesluit.

Angel doen ook ’n duet saam met haar eksverloofde, Manie Jackson (Somewhere Between).

’n Lekker countryalbum wat jou dansbaan toe sal sleep.

DIRK VAN DER WESTHUIZEN

Sexy vi my

Dié polsende popliedjie met sy dubbelsinnige saamsinglirieke kom van Dirk se nuwe gelyknamige album wat vroeër vandeesmaand uitgereik is.

Die musiekvideo van die liedjie, wat vir dié bedoel is wat nie bevooroordeeld is nie, het teen druktyd al amper 50 000 trefslae op YouTube gehad.

Dit voorspel net een ding: Hier kom nog ’n treffer.

Dis immers reeds ’n groot gehoortreffer in Dirk se vertonings.

– Jaco Hough-Coetzee

Celine se rapper-seun

Celine Dion en haar seun René-Charles Angélil.

Musiek is in sy bloed, maar jy sal nie Celine Dion se 17-jarige seun hoor ballades sing nie.

René-Charles Angélil maak naam as die rapper Big Tip. Die tiener het onlangs twee liedjies uitgereik.

Foto: Instagram.

Albei is deur die Kanadese sanger The Weeknd: Catwalks (Sidewalks Remix) en Loft Music Remix. En albei snitte het boaan die R&B & Soul New & Hot-trefferlys op Soundcloud geboer.

Hy het ook onlangs ’n oorspronklike liedjie, The Apple, uitgereik.

Sy pa, die bekende musiekvervaardiger René Angélil, is in 2016 oorlede.