Nuwe jaar, nuwe musiek

Die sangdiva Meghan Trainor (25) se derde album, Treat Myself, word op 25 Januarie uitgereik en sluit treffers soos No Excuses in.

Sy vertel die album se tema is selfliefde en handel oor die tyd ná haar tweede stemoperasie “toe my liggaam net ingegee het – ek moes myself herinner ek kan ‘nee’ sê, op myself fokus en na myself kyk”.

Verkleurmannetjie

"My hare was swart toe ek gebore is. Toe bruin, rooi en toe blond op die ouderdom van vier," verklap sy. Tot haar oogkleur het verander.

"My oë was eers blou. Nou is dit groen."

Treffermasjien

Sy’t al ’n rits bekende liedjies agter haar naam – van haar trefferdebuutsnit, All about That Bass, tot die danstreffer Me Too.

Haar jongste oorwurm, Hey DJ, saam met die Latyns-Amerikaanse groep CNCO en die rapper Sean Paul is ook kookwater!

Pretfeite

  • Sy het op 11 begin musiek skryf.
  • Meghan is dol oor onesies en dra ’n kameelperdpak in die Me Too-musiekvideo.
  • Sy’t ’n ouer broer, Ryan (26), en ’n kleinboet, Justin (23).
  • Sy’s ’n katliefhebber en het as kind ’n akkedis, rot en slang as troeteldiere gehad.
  • Phil Collins en Stevie Wonder inspireer haar as sanger.

Trouliedjie

Sy en haar liefie, die Spy Kids-akteur Daryl Sabara (26), het op 22 Desember – haar 25ste verjaardag – afgehaak.

Meghan het kansel toe gestap op die note van Marry Me, ’n liedjie wat sy met Daryl as inspirasie geskryf het. Praat van romanties!

Bronne: Rateyourmusic.com, Billboard.com, People.com, YouTube, Uselessdaily.com, Euphoria, Wixx.com