Karlien van Jaarsveld se tweelingseuns, Eliah en Daniël (5), se aansteeklike lewenslus tydens Afrikaans is Groot (AIG) in November is reeds 'n voorsmaak van hoe AIG-konsertgangers vanaand by die GrandWest Grand Arena in Kaapstad gaan geniet. Dit is die eerste van vyf konserte wat vanjaar in die Moederstad gehou gaan word.

Jammer laatslapers, die kaartjies vir die Kaapstad-deel van die konsert is reeds almal uitverkoop.

Demi Lee Moore gaan natuurlik ook wys hoekom sy aangewys is as die eerste wenner van die sangkompetisiereeks, Die Kontrak op VIA, wat sowat 2 000 hoopvalle sangers gelok het. As deel van haar prys, gaan sy op elke AIG-konsert saam met van die land se grootste musikante in Afrikaans optree.

Die opgewondenheid het reeds deur die Sexy Vi My-sanger Dirk van der Westhuizen se are gebruis toe hy Dinsdag die vlug na Kaapstad gehaal het.

"#MaakDieBesteVanElkeOomblik", is hoe hy oor die geleentheid voel. 

"Lekker tye saam met goeie mense", het Dirk op Instagram geskryf by ’n video van sy "tjomma", die sanger Brendan Peyper, wat besig is om die kitaarsnare te tokkel terwyl hy vir die openingskonsert voorberei.


Van die kunstenaars wat optree, sluit in Juanita du Plessis, Riana Nel, Bok van Blerk, Karlien en boet Bobby asook Bok van Blerk.

Bron: afrikaansisgroot.co.za