Die nuwe Bruce Lee

Hamilton Wessels is geen vreemdeling in die vermaakwêreld nie. Hy was ’n dekade lank ’n tromspeler in sy broer, Robbie Wessels, se groep en het saam met hom aan die fliek 100 Meter Leeuloop gewerk.

Nou het Hamilton se eerste solo-enkelsnit, Bruce Lee, die lig gesien onder sy sangernaam, Hammie. Die liedjie is uit ’n idee gebore wat op ’n epiese, ietwat onverantwoordelike laataandkuier êrens posgevat het, skerts die 32-jarige sanger.

Hammie se eerste enkelsnit, Bruce Lee, is onlangs uitgereik en bring hulde aan die ikoniese superheld.

“Dit gaan die dier in jou wakker maak. Dit is ’n tong-in-die-kies-dansliedjie wat hulde bring aan die ikoniese superheld Bruce Lee. Dit is ’n elektroniese snit wat die konserwatiefste siel sal losskud!”

Mense kan ritme en aansteeklike tegno-klanke verwag, sê Hammie.

Die musiekvideo

Die musiekvideo, wat in ’n verlate gebou in die middestad van Pretoria verfilm is, het in sy eerste drie weke op YouTube byna 10 000 trefslae gehad.

En met dié dat dit hulde bring aan die koeng foe-meester Bruce Lee, sluit dit natuurlik gevegstonele in. Dié tonele was nogal uitdagend, vertel Hammie, maar hulle het vooraf deeglik daarvoor geoefen.

Sy beroepspad

Ná 10 jaar as tromspeler in sy ouboet se groep het Hammie drie jaar gelede halt geroep, want hul toerprogram het te bedrywig geraak.

“Ons het ook saam die draaiboek geskryf vir 100 Meter Leeuloop en ek het verskeie rolle daarin vertolk,” vertel hy oor die fliek van 2013.

Hy en sy suster, Annarie Hugo, besit nou die agentskap Vocal Events, wat kunstenaars soos Ricus Nel, Dewald Wasserfall en Monique Steyn bestuur. Hulle verskaf ook klank, beligting en verhoë vir geleenthede of konserte.

Beskryf jouself

“Ek is ’n optimistiese ou wat glo ek is hier om die lewe te geniet en nie te veel te stres oor goed buite my beheer nie. Ek dans graag in my vrye tyd alleen by die huis. Wanneer ek nie dans nie, maak ek nes ek wil tot my vrou my bel en sê ek is besig om twak aan te jaag. Dan maak ek soos sy sê,” vertel dié sanger van Pretoria.

Sy vrou, Chandré (32), verwag hul eersteling. “Een van die dae is ons drie in die huis,” sê hy.

“Ek is so opgewonde.”

OP ONS SPEELLYS

DIE LEGENDES VAN AFRIKAANSE MUSIEK

VERSKEIE KUNSTENAARS

Die vyf nuwe albums in dié reeks sal jou op ’n onthoureis meevoer. Die dubbelalbum bevat 39 van die bekendste treffers deur die oorspronklike kunstenaars – liedjies soos Ramaja, Skipskop en Sproetjies.

Die ander vier albums bevat 20 van die grootste treffers van een kunstenaar elk: Anneli van Rooyen, Gé Korsten, Carike Keuzenkamp en Sonja Herholdt.

– JACO HOUGH-COETZEE

ICARUS FALLS

ZAYN

Dié voormalige lid van One Direction is nou ’n solokunstenaar uit eie reg en een van die hardwerkendste popkunstenaars. Maar 27 liedjies op een album? Hy kon gerus meer aandag aan sommige snitte gegee het en die onnodige liedjies weggelaat het.

Net sy geharde aanhangers sal dié tweede album van hom geniet. Dis ’n lekker rustige luister en hier en daar is iets wat jou sal wil laat dans. Van die uitstaansnitte is die treffers Let Me, Entertainer en Fingers.

– COLIN HENDRICKS