Blaaskans

Helmut (48) het in 2011 besluit om ’n blaaskans van die musiekwêreld te vat.

“Ek het my afgevra of dit is wat ek vir die res van my lewe wil doen. Ek moes selfondersoek instel en ’n antwoord vind op die vraag of ek steeds Helmut Lotti die sanger wil wees,” vertel die Belgiese tenoor en liedjieskrywer wat bekend is vir sy klassieke albums.

“Daarna het ek opgehou om internasionaal te toer en geen albums opgeneem nie. Die uitsondering was ’n paar uitgesoekte optredes in Nederland asook een album, Mijn Hart & Mijn Lijf, wat net in Nederland uitgereik is. My fokus het verskuif na die talle kulturele aktiwiteite in België.”

Hy het mettertyd die groot internasionale verhoë gemis, erken Helmut.

“Ek het besef hoe spesiaal my loopbaan eintlik was. Ek het ook ál meer die behoefte gekry om ’n album te maak wat ’n boodskap van hoop oordra.

“Nadat ek besluit het: ‘Ja, ek wil Helmut Lotti wees,’ het ek begin om die Comeback-album saam te stel. Ek wou dit op ’n groot manier met ’n simfonie-orkes en massa-koor doen.”

Wat om te verwag

Sy jongste album en DVD heet The Comeback Album. Die DVD-opname van die Comebackkonsert is in Hamburg, Duitsland, opgeneem. KykNET het dit verlede maand eksklusief hier uitgesaai.

Sowat 100 kunstenaars het saam met Helmut gewerk en hy is deur The Golden Symphonic Orchestra begelei. Dit bevat van sy grootste treffers, soos Out of Africa en Santa Lucia, nuwe verwerkings van ou gunstelinge soos Bridge over Troubled Water en Hallelujah, en ’n duet, Solamente una Vez, saam met die Argentyns-Italiaanse sanger Semino Rossi.

“Die lirieke van al die liedjies, wat ek self noukeurig gekies het, gaan oor geloof, liefde en hoop. Ek het die temaliedjie, Faith, Hope and Love, geskryf. Dit handel oor ’n positiewe energie en innerlike krag.”

Persoonlike hoogtepunt

’n Jaar ná sy internasionale deurbraak met sy 1995-album, Helmut Lotti Goes Classic, het hy die World Music Awards in Monaco bygewoon.

“Celine Dion was in die gehoor en het my aangestaar asof ek ’n ruimtewese is,” onthou hy.

Ná die tyd het sy vir hom gesê: “Ek weet nie wie jy is nie, maar jy is wonderlik. Kyk goed na jouself, seun.” “Dit was die grootste kompliment wat ek al gekry het.” S BHelmut Lotti bring sy Comeback-vertoning volgende jaar na Suid-Afrika vir slegs een optrede, op 21 Maart.

Dit vind plaas in Pretoria en kaartjies is nou reeds by Computicket beskikbaar.

OP ONS SPEELLYS

’N DUISEND KEUSES

SAMANTHA LEONARD

Sy het al ’n hele paar Barnyardproduksies op haar CV en het verlede jaar derde geëindig in die tweede seisoen van die gewilde sangreeks The Voice – en nou is haar debuutalbum op pad, waarvan hierdie liedjie die titelsnit is.

Dit het lirieke met substansie en vertel die storie van al die struikelblokke wat op ’n mens se pad kom, maar ook die duisend keuses waaruit jy moet kies.

KRONE 5

VERSKEIE KUNSTENAARS

Die Krone-konsertreeks is reeds gevestig as een van die grootste saamsingvertonings in Suid-Afrika. Hierdie dubbelalbum is die klankbaan van die vyfde konsert, wat einde Julie plaasgevind het.

Soos dit op die omslag beloof, is dit ’n “Moewiese Saamsing Jol”. Dit bevat ’n keur van 19 plaaslike en internasionale treffers deur van ons bekendste sangers.