Die dag het vir hom nes enige ander begin, sonder enige teken dat hy die laaste Maandag van Januarie 2019 vir die res van sy lewe sal onthou. 

Vir die bebaarde, hawelose man wat die strate van Carletonville, ’n Gautengse myndorp, oudergewoonte vroegoggend binnegevaar het, was dit net nog ’n dag in sy lewe, van sy eie soort “werk” op sy eie manier doen. 

Soos gewoonlik het hy buite ’n winkelsentrum op sy kitaar sit en tokkel terwyl hy die een liedjie ná die ander sing om ’n paar aalmoese te verdien. 

Tussendeur het hy aan verbygangers klein houtkruise gesmous wat hy van boomtakke maak, afskuur en met ’n lagie vernis afrond. 

Nooit sou Steven Ferguson (37) kon dink ’n selfoonvideo wat ’n inwoner daardie dag van hom gemaak en in die sosiale media versprei het, sou hom oornag roem besorg nie. 

SANGSENSASIE

By dié video waarin Steven sing, het Patrick Jacobs geskryf: “Dié man het ’n besonderse stem. Sy naam is Steven, hy sit voor Spur in Carletonville en speel musiek en sing. Share die video. Dalk kan iemand hom raaksien.” 

Dit het toe gebeur – en hóé. Want binne drie weke is daar 180 000 keer aanlyn na die video van die straatmusikant gekyk en geluister hoe hy met sy rasperstem My Hartjie My Liefie sing. 

Die video het ook die aandag van die platemaatskappy Select Musiek getrek, en in ’n ommesientjie het hulle Steven die Swerwer, soos hy deesdae bekendstaan, ’n platekontrak aangebied. 

Ja, dinge het nou skielik verander, maar hy is opgewonde, vertel Steven hier in die voortuin van ’n weldoener, Christo Smith, se woonstel op Carletonville waar hy sedert die begin van Februarie bly. 

Christo, ’n plaaslike sakeman wat nou as Steven se agent optree, het die dag ná Huisgenoot se onderhoud sy “eerste paid gig” gereël by die restaurant Diggers-inn in Rysmierbult, ’n gemeenskap naby Carletonville. 

En dieselfde aand vlieg die twee Kaapstad toe om die kontrak met Select te finaliseer. Steven sê hy was nog nooit in sy lewe op ’n lughawe nie, wat nog te sê in ’n vliegtuig.

“Ek is maar skrikkerig, want wat as daai ding se vlerk afkom? Of hy gaan sonder petrol staan? Ek het nog nie eens ’n Avbobpolis nie!” 

Dan kom hy met die oplossing vorendag: Hy dink hy moet eers “ ’n parachute by ’n pawnshop gaan koop”. 

ONTDEK TALENT

Net so toevallig as wat Patrick daardie selfoonvideo geneem en op Facebook gedeel het, het Steven se pad ’n paar dae later met Christo s’n gekruis voor ’n ander winkelsentrum waar hy musiek gemaak het. 

Dié twee het aan die gesels geraak en Steven het hom vertel dat hy in ’n kinderhuis grootgeword het en die afgelope 20 jaar van dorp tot dorp swerf. 

Soms wanneer hy as handearbeider ’n tydelike werkie by iemand kry, kry hy darem vir ’n paar dae ook ’n dak oor sy kop.

Andersins slaap hy sommer langs die pad in die veld voor hy weer na die volgende dorp duimgooi, het hy vir Christo sy lewe as hawelose beskryf. 

Christo het hom toe genooi om by hom en sy vriendin, Tascha Lee, in te trek. 

Steven Die Swerwer
Steven bly nou saam met ’n weldoener, Christo Smith, en dié se meisie, Tascha Lee. Foto: Onkgopotse Koloti

’n Week later was Steven ’n internetsensasie nadat duisende mense Patrick se selfoonvideo gekyk, gedeel en die onbekende straatsanger se talent besing het. 

Christo het die sangeres Cordelia, ’n skoolvriendin, van Steven vertel, en sy het op haar beurt met Ernst Kleinhans, hoofbestuurder van Select, gepraat. 

Dié het laat weet: Kom, dat ons oor ’n kontrak kan gesels. Christo het intussen ook vir Steven sy eie Facebookblad geopen en hulle het dit Steven-Swerwer genoem.

“Kom, boeta, vertel ’n bietjie waar jy vandaan kom,” moedig Christo sy nuwe vriend aan. 

GROOTWORDJARE

“Mayfair, Newlands. Sulke plekke in Johannesburg,” begin Steven vertel. “Ek was so sewe jaar se kant toe ek en my tweelingsussie deur die welfare weggevat is. Ek weet nie hoekom nie en het ook nie eintlik ge-worry nie. Daarna het ek my ma baie min gesien. Ek het later gehoor my pa is dood.” 

Hy was 15 jaar oud en nog op die skoolbanke toe die wanderlust aan hom begin knaag. 

"Ek het sommer baie van die kinderhuis af weggeloop."

“Ek het sommer baie van die kinderhuis af weggeloop. Dan is ek die strate van Johannesburg in, of partykeer hike ek ’n bietjie verder.” 

Elke keer is hy opgespoor en teruggeneem kinderhuis toe, maar toe hy 17 jaar oud was, “toe sê hulle ek moet maar my tasse pak en waai; hulle kan sien ek wil nie daar bly nie,” onthou Steven. 

Nee, skud hy sy kop. Hy het nie st. 8 (gr. 10) klaargemaak nie. Daarna het sy lewe as voltydse swerwer begin. 

OP DIE PAD

“Wanneer ek voel ek moet nou weer na die volgende plek gaan, haal ek my padkaart uit, maak my oë toe en druk met my vinger op enige plek. En dis dan waarheen ek gaan. Maar my vinger het nog nooit op Kaapstad gedruk nie!”

In daardie tyd het hy met oom Attie en tannie Leonora de Wet van Carletonville bevriend geraak. 

“Hulle was soos my ouers,” vertel hy. Oom Attie, wat ’n paar jaar gelede oorlede is, het hom leer kitaar speel. Steven gaan nog by tannie Leonora inloer wanneer hy in die omgewing is. 

“Wanneer ek op die pad is, dan bel ek haar van die tiekieboks af om te laat weet waar ek is.” Hy gesels ook af en toe met sy tweelingsuster oor die foon. 

MUSIEK

Om musiek te maak is vir hom maklik, sê Steven. “Ek hoor ’n liedjie oor die draadloos, dan sing ek hom in my brein, en wanneer ek my kitaar optel, dan het ek hom.” 

Hy sing alles van tradisionele liedjies tot country en gospel. Hy skryf ook sy eie liedjies. “Veral gospel. Ek like gospel.” 

Dan gaan haal hy sy kitaar in die woonstel. Dié een het hy so ’n jaar gelede vir R700 by ’n pandjieswinkel gekoop. 

Steven Die Swerwer
Die ene konsentrasie met sy houtwerk. Foto: Onkgopotse Koloti

Hier in die tuin druk hy ’n paar akkoorde tot hy die wysie kry, en dan trek hy weg in sy unieke rasperstem: Ek hoor tienduisend engele sing as God my huis toe neem . . .

HOUTWERK

Later wys hy ’n stuk houtwerk van sowat 30 cm lank wat hy gemaak het wat die Bybelse Golgota-toneel uitbeeld.

Dié een wil hy vir die sangeres Juanita du Plessis gee as hy haar eendag ontmoet.

“Wanneer sy van haar gospelgoed oor die draadloos speel, sit ek dit altyd harder. Dit gee my sommer ekstra krag vir die dag.” 

Steven Die Swerwer
Dié Golgota-kruis wil hy vir Juanita du Plessis gee. Foto: Onkgopotse Koloti

Sy klein dra-radio wat met twee AA-batterye werk, gaan oral waar hy gaan, anders kan hy mos nie musiek luister nie, verduidelik die man met die pet en die welige baard. 

In sy 20 jaar as duimgooiende, hawelose reisiger is hy nog nooit langs die pad aangerand nie, vertel Steven, maar hy is al besteel terwyl hy iewers onder die sterre geslaap het en het op dié manier twee kitare en ’n ou konsertina verloor. 

Maar sy dae van padlopery is hopelik nou verby, want wanneer hy eers met sy musiek begin geld maak, gaan hy vir hom “ ’n Autovilla” (kampeerwa) koop, droom die singende swerwer . . .