Verskeie kunstenaars – Vreesloos Vrou

3/5

Dié album bevat 21 liedjies deur van die beste Afrikaanse sangeresse.

Dit sluit in treffers soos Swart Koffie (Corlea), Sewe Oseane (Andriëtte) en Timbuktu (Riana Nel).

Nog ’n bederf is Laurika Rauch se Die Gang.

’n Lekker album vir ’n gesellige kuier of ’n DJ se speellys. – Jaco Hough-Coetzee

Hanna Boss – Verf Jouself

4/5

’n Indrukwekkende debuutalbum in ’n moderne popstyl met hoofsaaklik oorspronklike Afrikaanse musiek.

Die ryk musiekverwerkings val lekker op die oor. Die titelsnit en die lied Jammer beïndruk met die eerlike emosies.

Dié musiek sal nie deug op ’n braaipartytjie nie, maar wel vir alleen-luistertyd. – Jaco Hough-Coetzee

Vernon Barnard – Deur Jou Oë

3/5

Dié sanger is op ons radar sedert Bobby van Jaarsveld in 2016 sy beoordelaarstoel na hom gedraai het gedurende The Voice.

Die blinde sanger se debuutalbum bestaan uit 14 snitte en is ’n mengsel van pop en alternatiewe musiek.

Sy oudisieliedjie, Story of My Life, is ook op dié album ingesluit. – Jaco Hough-Coetzee

Thirty Seconds to Mars – America

3/5

Op dié opvolgalbum van 2013 se Love, Lust, Faith and Dreams sing Jared Leto, die hoofsanger van dié Amerikaanse rockgroep, oor sy ontevredenheid met die politiek van Amerika en die wêreld.

Die liedjies neig om almal dieselfde te klink, elk gedryf deur ’n groot koor en Jared se magtige emo-stem. – Nici de Wet

The Weeknd – My Dear Melancholy

3/5

Die Kanadese sanger het almal met dié sessnit-uitreiking verras.

Dis sy eerste nuwe musiek sedert 2016 se dubbelplatinumalbum, Starboy.

Dis in wese ’n album oor ’n gebroke hart.

The Weeknd stort sy hart uit in liedjies soos Call Out My Name, Wasted Times en Privilege. – Nici de Wet

Steve Hofmeyr – Toeka 3CD Stel

4/5

Steve se reeks Toeka-vertonings wat oor jare gestrek het, kan moontlik as een van sy grootste suksesverhale beskryf word.

In dié reeks bring hy hulde aan legendariese musiekhelde van weleer.

Op dié drie-CD-stel kan ’n mens na 59 plaaslike en wêreldtreffers luister. – Jaco Hough-Coetzee

Hennie De Bruyn & Die Kitaarkêrels – Kalahari Skoffeltyd

3/5

Met meer as 22 albums agter hul naam weet dié ouens hoe om mense aan die skoffel te kry.

Dié album bevat 17 snitte in ’n moderne boeremusiekstyl, maar ook ’n kitaargedrewe snit in ’n tangostyl, Nuwejaars Tango, wat lekker op die oor val. – Jaco Hough-Coetzee

Appel – Boer Loop Deur My Are

3/5

Appel (Christoph Kotzé) is al 10 jaar lank as liedjieskrywer bedrywig en talle treffers het al uit sy pen verskyn.

Dit is sy tweede album.

Die meeste liedjies is tong-in-die-kies en is reeds op dansbane gewild, soos sy duet Lemoene saam met Bok van Blerk.

Ander liedjies, soos Hande Bak, is vol emosie. – Jaco Hough-Coetzee