Wat om te verwag

Die DVD getiteld 20 Jaar Live is opgeneem tydens ’n Jakkie Louw-vertoning in die Rockwoodteater in Pretoria. Dit bevat van Jakkie se bekendste treffers, asook saamsingkeurspele met onder meer liedjies van die Bee Gees.

“Dit is ’n foto van wie ek vandag is,” beskryf Jakkie die opname.

“Dis ook ’n foto van my musiekpad wat ek vir my ondersteuners wil gee om dankie te sê vir twee dekades in die bedryf.”

Dit bevat danstreffers soos Drie Pikkewyne en Maroelaboom asook roerende ballades soos Een Miljoen Woorde en Voshaarnooi.

Hoe het die verfilming gebeur?

“Sjoe, dit was lank!” beskryf die 39-jarige sanger die opnameproses.

“Ons het die show twee keer gedurende die dag opgeneem sonder ’n gehoor, en die aand weer met ’n gehoor, waarna alles in die redigeerproses bymekaargesit is. Ek onthou ek en van die manne in die band het drie keer tydens die opnames backstage gaan staan en bid vir krag. Dan klim jy terug op die verhoog en gee jou alles, want dit is wat jy aan jou ondersteuners verskuldig is.”

Waar kom jou musiek vandaan?

“Van mense af! Dit is hulle wat vir my hul stories vertel wat later ’n idee vir ’n liedjie kan word. Ek kruip nooit in ’n BBP-area weg nie. Ná ’n show kuier ek saam met die mense, en dikwels deel hulle hul persoonlikste emosies met jou. Of iemand kom groet en wil weet of ek onthou dat hy 10 jaar terug ’n bottel Tas by ’n show van my gewen het, op daai of daai dorp. My gehore het die afgelope 20 jaar my vriende geraak; ek tree dus eintlik nooit voor vreemdelinge op nie. Hierdie DVD is vir hulle.” 

OP ONS SPEELLYS

AS DIE DONKIELONG ROEP!

OUDTSHOORN GROOTVOËL BOEREMUSIEKFEES

Die Oudtshoornboeremusiekfees is ’n jaarlikse instelling, en die 2018-fees se opname sluit onder meer die Kaapland Orkes en Die Voorlopers in.

Die 21 snitte op die CD sal aanklank vind by liefhebbers van tradisionele boeremusiek. Dit bevat ook ’n DVD met 13 musiekvideo’s.

LEPEL IN DIE DAK WEGSTEEK

CORDELIA

Die blonde sangeres se volgende enkelsnit van haar album Wees Lief het ’n polsende ritme wat die lywe op die dansbaan aan die beweeg sal kry.

’n Tong-in-die-kies liefdesliedjie wat trefferpotensiaal het.

IETS IN DIE WATER

ADAM

Nog ’n enkelsnit van die groep se album Bewe.

Dis ’n elektroniesgedrewe popliedjie wat hulde bring aan al die skoonheidstitels wat plaaslike meisies al verower het.

Soos die Adamlid Hugo Ludik sê: “Daar moet iets in die SA water wees.”