’n Ou gunsteling met ’n nuwe kinkel

Jay (40) se nuwe album, So Lank Sal Ek Jou Liefhê, bevat van die lekker dans- en popliedjies wat hom met die jare gewild gemaak het, maar dié keer het dit ook ’n kinkel.

“Ek het ’n paar songs opgeneem wat ’n bietjie meer diepte en betekenis het en dink dié wat daarna luister, sal daarvan hou om my stem ’n bietjie anders te hoor,” sê hy.

Onder sy gunstelingliedjies op die album is die titelsnit, wat opgedra is aan sy vrou, Mia (36), en vier seuns, Aiden (11), Jamie (10), Samuel (8) en Luka (3).

By sy vrou, Mia.
By sy seuns: (van links) Aiden, Luka, Samuel en Jamie.

“So Lank Sal Ek Jou Liefhê is baie spesiaal omdat dit oor my vrou en kinders gaan, maar die liedjie is universeel en kan ook vir verliefdes baie beteken.”

Benoni is die dansliedjie waarvan hy die meeste hou. “Ek dink hy sal die voete warm maak.”

Spanwerk

Jay span gereeld kragte saam met ’n sangeres met ’n kragtige stem – dink net aan sy en Lianie May se treffer NaweekLyfie.

Hierdie keer is dit Tarryn Lamb van die popgroep BlackByrd se beurt. Sy is te hoor op die snit Afgrond.

“Toe ek die liedjie hoor, het ek net dadelik geweet haar stem sal perfek daarby pas. Ek was reg; dit klink ongelooflik. Ons het al saamgewerk en ek’s baie bly ons kon die liedjie saam opneem.”

Van Eden tot nou

Die sanger was destyds lid van die gewilde groep Eden saam met Sean Else, Johan Vorster en Paulo Azevedo.

“Ek mis vir seker die manne op die verhoog, maar die skuif was nie moeilik nie omdat ek bevoorreg was om voor Eden reeds in musiekteater en vir korporatiewe vertonings solowerk te kon doen.

“Ek geniet dit nou meer as ooit tevore om alleen te wees en myself op die verhoog uit te leef.”

Hy en die Eden-manne is nog goeie pelle en het steeds kontak met mekaar, vertel Jay.

Eisjkom en valstande

Dit gebeur gereeld dat Eskom ’n vertoning van Jay kortknip. Dan moet hy vinnig dink.

“ ’n Mens probeer maar in die stilte en donker grappies maak tot die krag weer aankom.”

Twee voortande het ook al tydens ’n vertoning in die slag gebly.

“Toe ek jonger was, het ek tydens ’n wilde dans-en-sangnommer in ’n teaterstuk op die trap gestruikel en toe met die mikrofoon amper my twee voortande uitgeslaan. Nou weet julle my voortande is kunstande.”

JAY IN 'N NEUTEDOP
  • Hy is die liefste vir boerekos, veral skaapgeregte, boontjies en pampoen.
  • Sy stokperdjies is perdry, jag, kampeer en enigiets wat met die buitelewe te doen het.
  • “My gunstelingkoeldrank is Lucozade, maar ’n lekker koue brandewyn bly maar die beste,” vertel Jay.
  • Hy het geen bygelowe nie. “Ek vat elke optrede soos hy kom; elkeen is uniek. Al wat my kan irriteer, is asimmetrie. As die verhoog nie simmetries opgestel is nie, vang dit heeltyd my oog en trek my aandag af; soms so erg dat ek eers ’n paar goed moet regskuif.”

Resensies

Selfmedikasie, Fokofpolisiekar

SELFMEDIKASIE deur FOKOFPOLISIEKAR

Jy sal vreeemd voel terwyl jy na dié album luister, so asof dit nie klink soos die manne van Bellville nie.

Maar dan laat jy hom ’n week draai, voeg liedjies soos Parkiebank, Herfs 2017 en Ek Glo in die Son op jou speellys by, en voor jy jou oë uitvee, het dié album jou ingesluk en onthou jy hoekom dié manne die invloedrykste Afrikaans rockers is. Punt: 5 uit 5.

– JACQUES MYBURGH


King of Time, Johnny Clegg

KING OF TIME deur JOHNNY CLEGG

Die ikoniese Johnny Clegg keer terug met nog ’n besonderse album. King of Time bevat al die kenmerkende klanke van Afrikamusiek gekombineer met lekker Westerse rock-invloede.

Die Wit Zoeloe lui die album in met die titelsnit, ’n ritmiese, vinnige liedjie wat handel oor omgewingsgeregtigheid. Hy span ook sy sangerseun, Jesse Clegg, in. Punt: 4 uit 5.

– JACQUES MYBURGH

FOTO'S: MARTIN DE KOCK, CO PRODUCTIONS