ARM JULANIE J

Dié opgewekte liefdesliedjie lig die verskille tussen mense in verhoudings uit. Mense is die teenoorgesteldes van mekaar, maar dit is juis wat ons na mekaar toe aantrek. Jy is stil en ek maak geraas, so verskillend pas ons by mekaar. Jy is selfstandig, ek is ’n dromer. Ek is nuuskierig, jy is skaam, sing sy.

Dit is die klein dingetjies wat maak dat ’n mens verlief raak en verlief bly, sê sy.

“Net omdat iemand anders is as jy, beteken dit nie daardie mens is verkeerd nie. Daar is mooi in elke mens. Liefde kies nie dinge soos persoonlikheid, opvoeding of etnisiteit nie; dis ons wat dit doen.” Sy sing daarom ook: Jy is die suiker in my koffie sodat ek nie bitter smaak.

Julanie het in 2018 die liedjie vir haar man, die klankingenieur JP Chetty, geskryf toe hulle nog verloof was. “Ag, ek hoop mense geniet die liedjie. Dit laat my lag, en ek hoop dit sal dieselfde vir ander doen.”

Dit is die tweede enkelsnituitreiking van haar album van 2020, Mooi, en Julanie beskryf dit as ’n lekkervoelliedjie. “Ons het dit nou nodiger as ooit,” sê sy.

Die album se eerste enkelsnit, “Liefde wat ons heelmaak”, wat sy saam met Ivan Roux opgeneem het, word tans gereeld deur radiostasies landwyd gespeel.

Julanie het bekendheid verwerf vir haar Christelike musiek, maar haar loopbaan het nou die Afrikaanse kontemporêre popgenre betree. Haar debuutalbum, Spirit Breakout, wat in 2016 uitgereik is, is as beste nuweling by die Mzansi Christian-pryse benoem.

LIFESTYLE JASON DERULO & ADAM LEVINE

Jason Derulo het in 2020 ’n groot jaar gehad. Nie net het sy liedjie “Savage Love” boaan die trefferlyste geboer nie; hy’t ook die titel gekry as die man met die meeste volgelinge op TikTok. Nou begin hy 2021 met iets onverwags: ’n liedjie saam met die Maroon 5-hoofsanger, Adam Levine. Die resultaat is ’n aansteeklike radiovriendelike snit.

DRIVERS LICENSE OLIVIA RODRIGO

Die Disney- aktrise se debuutenkelsnit boer op die treffersparades en het al ’n paar stroomdiensrekords verbeter. En hoe dan nou anders. Dié oorwurm is deurspoel met ’n heerlike balans van emosie en aansteeklike melodieë. Die kragtige stem van die 17-jarige Olivia van die Disney-komediereeks Bizaardvark bring lewe aan hierdie liedjie oor ’n verlore liefde.

CHEMTRAILS OVER THE COUNTRY CLUB LANA DEL REY

Die titelsnit van Lana Del Rey se sewende album is alles waaraan aanhangers van die koningin van melodrama en melancholie oor die jare gewoond geraak het. Die meesleurende melodieë word deur sagte klavier- en kitaarspel aangevul sonder om dit te oordonder. Lana se unieke stem bly dus die hooffokus van die liedjie.

WAAR EK MOET WEES CEZANNE YZELLE

’n Briljante enkelsnit uit die Rosestad. Hierdie ballade in die kabaretstyl val nie in die kommersiële mark nie, maar sal aanklank vind by die ernstiger musiekliefhebber. Dié lirieke som die liedjie op: Soveel draaie langs die pad, soveel keuses reeds gemaak, soveel draaie reeds gevat.

Cezanne verduidelik wanneer jy uit jou foute leer, kom jy waar jy graag wil wees. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe