Dié 19-jarige tiener van Kaapstad sing dalk gereeld voor groot gehore, maar is eintlik baie skaam. Hy het al saam met mense gewerk wat liedjies vir sterre soos Justin Bieber, Usher, Beyoncé, Rihanna en Britney Spears vervaardig het. Maar sy pad boontoe was nie altyd maanskyn en rose nie.

Desmond het deur donker tye gegaan toe hy in 2017 van sy geliefde bestuurder, Tip Green, moes afskeid neem.

Ek het ’n beste vriend verloor. Dit was ’n donker tyd in my lewe en ek het alles in my musiek gesit

Hoe het jou musiekloopbaan begin?

Ek het in 2014 in Johannesburg ’n paar liedjies saam met een van my vriende in ’n ateljee opgeneem. Ons het net rondgespeel met die musiek en nie gedink dit sal enigsins ’n loopbaan word nie.

Gelukkig vir ons was Arlen Griffin, ’n Amerikaanse komediant, by die ateljee. Hy het in Suid-Afrika getoer. Hy het sy selfoonlaaier in die ateljee vergeet, en op pad om dit te kom haal het hy van my musiek gehoor.

Arlen het aangebied om my aan mense in die Amerikaanse musiekbedryf voor te stel, en ’n paar maande later was ek op pad na Atlanta in Amerika.

Hy is in Duitsland gebore, maar het in Johannesburg grootgeword voor hy na Kaapstad getrek het. Foto: Verskaf

Vertel ons van jou grootwordjare.

Ek is in Duitsland gebore, maar het in Johannesburg grootgeword voor ek na Kaapstad getrek het. My naam kom van my twee oupas, Desmond Orrill en John Legg.

Een was ’n sanger en die ander ’n onderwyser en digter. Dit het net reg gevoel om dit as my verhoognaam te gebruik. Ek het twee susters, Georgia (20) en Jemma (15).

Kleinsus Jemma is ’n ongelooflike sangeres. Ek sou sê ons het ons talent beslis by die familie geërf. My ma, Desere, en pa, Tim, sing ook, en my oupa Desmond was op sy dag deel van ’n musiekgroep.

Ek was glad nie van plan om ’n sanger te word nie. Ek wou aanvanklik ’n sokkerspeler word en daarna ’n sakeman, maar toe beland ek in die musiekbedryf.

Vertel ons meer oor jou nuwe liedjie, I Mean That.

Ek het ’n bietjie op my kitaar getokkel en dit op my selfoon opgeneem. Later het ek die eerste vers in die ateljee opgeneem.

Dit gaan oor die persoon met wie ek uitgegaan het terwyl ek die liedjie geskryf het, en dit was die beste manier om te beskryf hoe ek werklik voel.

Van daar af het dit net gegroei.

Die talentvolle jongman bespeel drie instrumente. Foto: Verskaf

Hoe het jy die verlies van jou bestuurder hanteer?

Ek het my eerste bestuurder, Tip Green, ontmoet toe ek saam met my pa in 2014 in Atlanta gekuier het. Hy het my voorgestel aan DJ Toomp – die persoon wat al liedjies vir Kanye West, Mariah Carey en Jay-Z vervaardig het.

Ek het twee jaar lank by Tip gewoon, waar ek saam met DJ Toomp en die span gewerk het.

Toe ek my ouers in Suid-Afrika besoek, het ek onverwags ’n oproep gekry dat Tip siek geraak en gesterf het. Dit was ongelooflik hartseer. Ek het nie net ’n bestuurder verloor nie, maar ook ’n beste vriend.

Dit was ’n donker tyd in my lewe en ek het my alles in my musiek gesit. Musiek was die beste terapie en het my deur hierdie swaar tyd gedra.

Ek sal altyd dankbaar wees vir Tip, en ek sou die ervaring nie vir enigiets in die wêreld verruil nie.

Desmond het onlangs 'n nuwe liedjie, I Mean That, vrygestel. Foto: Verskaf

Wat is jou toekomsplanne?

Ek wil teen November my tweede EP en teen einde vanjaar my eerste vollengtealbum uitreik. Ek is baie passievol oor dié musiek; meer as wat ek al oor enigiets was.

My droom is om die wêreld plat te reis en internasionaal naam te maak.

Ek wil graag ’n paar Samas en Grammy-pryse wen en saam met die sanger en liedjieskrywer Musiq Soulchild werk.

Kitsvrae

Gunstelingkleur?

  • Groen

Watter dier sou jy wou wees?

  • ’n Voël

Wie sal ’n geveg tussen Spider-Man en Superman wen?

  • Superman

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

  • Lees

Hoeveel instrumente bespeel jy?

  • Twee, kitaar en klavier

Grootste swakheid?

  • My ongeduldigheid

Gunstelingpeuselhappie?

  • Pap

Vyf liedjies wat jy wens jy self geskryf het?

  • Bohemian Rhapsody van Queen
  • P.Y.T. (Pretty Young Thing) van Michael Jackson
  • Marvins Room van Drake
  • Bennie and the Jets van Elton John
  • Love and Happiness van Al Green

Watter fliek het jy die onlangsste gekyk?

  • Forrest Gump

Kos waaroor jy mal is?

  • Spaghetti

Kos wat jy verpes?

  • Brusselse spruitjies