Hoe verskil die nuutste album van jou voriges?

Toe ek met my musiekloopbaan begin, was ek net 20 jaar oud en baie van my aanhangers was toe tieners.

Sedertdien het die meeste hul universiteitsloopbaan voltooi of is getroud. Baie het dus vir my en my aanhangers verander.

Destyds het ek oor die liefde geskryf, soos “You broke my heart and I’m done with this”. Maar noudat ek ouer is, is dit meer soos “You broke my heart but I also let you break my heart”.

Ek wil die meer komplekse aard van die liefde uitdruk. Ek dink ek verstaan dit nou beter.

’n Chimera is ’n mitiese vuurspuwende fabeldier wat deur gedeeltes van verskillende diere saamgestel is. Wat hou die betekenis van die naam vir jou in?

Dis simbolies van my musiek en my persoonlikheid. Tydens my grootwordjare het ek baie na ouer groepe geluister soos Chicago en Earth, Wind & Fire.

Ek het in die kerk grootgeword; daarom is daar ook ondertone van gospel. Dis R&B met elemente van jazz en hip-hop.

Die idee om al hierdie verskillende elemente by die album in te bring som dus my en my musiek op.

Daar is 17 snitte. Hoe het dit bymekaargekom?

Die album is die eerste een waarvoor daar nie ’n streng spertyd was nie; dus kon ek meer aandag aan die liedjies gee.

Daar is baie spontane oomblikke en rou emosies. Ek het byvoorbeeld die liedjie Feel Something geskryf direk nadat ek en ’n vriend vasgesit het. Ek het na ’n koffiekroeg gegaan en die liedjie binne 10 minute geskryf.

Terug in die ateljee het ek dit dadelik opgeneem. Ons het die eerste vers en die refrein met net een opname afgehandel.


Wat is jou gunstelingsnit?

Pre-love. Dit was uitdagend om die stemgedeeltes op te neem en het my as musikant laat groei.

Dit gee my nou ’n gevoel van warmte en tevredenheid.

Jy is deur ’n rowwe tyd ná die uitreiking van jou 2014-album, The Masses, en het dit oorweeg om jou musiekloopbaan op te skop. Wat het jou deur dié donker gat gehelp?

Daar was baie politiek betrokke met die platemaatskappy waar ek die album opgeneem het, en dit het gevoel asof ek nie in die rigting ontwikkel waarheen ek wou nie.

Daarna het ek saam met ’n vriend deur Amerika gereis en dit was so verfrissend om net as Matthew met mense te gesels (Jimmy se regte naam is Matthew le Roux).

Dit het gehelp om net ’n bietjie buite my loopbaan te staan.

Die opnameproses van die nuutste album het ook gehelp. Die kreatiewe kant van musiekmaak was nog altyd een van my oorlewingsmeganismes.

Met wie sou jy wou saamwerk?

Ek en Bobby van Jaarsveld praat al lank oor iets saam doen.

Dit kan interessant wees omdat ons genres so verskil.

Hoe ontspan jy?

Ek is dol oor kook. Ek speel goeie musiek, skink ’n glasie wyn, steek kerse aan en kook ’n heerlike kerriegereg.

RESENSIE

RIAAN GROBLER – Alles

3/5

Die sanger, radio-omroeper en TV-aanbieder se nuwe enkelsnit is reeds ’n groot versoektreffer by sy vertonings.

Dié liefdesliedjie val onder die ligtepopgenre, wat beteken dis op partytjiedansliefhebbers gefokus.

Die polsende ritme en lirieke deur die liedjieskrywer Michael de Lange laat die snit sommer dadelik in jou kop vassteek. – Jaco Hough-Coetzee

Pretfeit: Riaan sou ’n dokter wou wees as hy nie in die vermaakbedryf was nie.