Mal oor sy gesin

Stéfan, gebore Stefan Bezuidenhout, woon in Centurion saam met sy ma, Hermien, pa, Dewald, en kleinsus, Renthia (8). Sy suster is sy grootste aanhanger, sê hy.

“Ek is baie lief vir haar.”

Die jong sanger is ’n gr. 6-leerder aan die Laer­skool Wierdapark. Hulle is ’n hegte gesin, sê hy, en sy ouers steun hom geweldig.

“Hulle loop nie ’n aktiwiteit van my of my sussie mis nie. Hulle maak altyd tyd vir ons en dit wat vir ons belangrik is. Dit is by hulle dat ek geleer het tou opgooi is nie ’n opsie nie.”

Sy ster skiet die hoogte in

Sy loopbaan het die afgelope twee jaar vlam gevat.


Hy het verlede jaar die radiostasie Jacaranda FM se #MBDKiffKid-musiektalentkompetisie gewen en die geleentheid gekry om in hul jaarlikse konsert, Jacaranda Day, op te tree.

“Ek het nog altyd gesing, nie noodwendig goed nie,” skerts hy. “My verloop tot hier was baie organies. Maar ek moet tannie Ronel Brink uitsonder; sy het in my geglo,” vertel hy.

Ronel, die sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld se ma en bestuurder, het Stéfan raakgesien toe hy saam met Bobby by die Laerskool Wierdapark opgetree het. Sy is nou ook sy bestuurder.

Vriende in die bedryf

Stéfan werk ook saam met een van die lede van die Afrikaanse sanggroep Eden, Paulo Azevedo. Paulo is ’n platevervaardiger by Coleske Artists.

“Hy is iemand wat my verstaan en weet wat vir my werk.”

Stéfan was die jongste deelnemer aan die Classics Is Groot-konsert by Times Square in Pretoria.

“Ek is baie bevoorreg om danksy Classics Is Groot saam met groot name in die bedryf te kan werk. Ek het saam met die meeste van Coleske Artists en Select Musiek se sangers gewerk.”

Sangers soos Bobby, Karlien, Dewald Wasserfall en Tarryn Lamb is sy gunstelinge.

Stokperdjies

Hy is nie net ’n goeie sanger nie; hy is ook ’n kranige krieketspeler. As gevolg van sy besige program het hy nie baie tyd vir veel ander sportsoorte nie, maar hy het wel nog verlede jaar rugby gespeel.

Hy sing ook in die skoolkoor, neem aan debatte deel en speel klavier en kitaar. Sy gunstelingvakke op skool is wiskunde en natuurwetenskappe.

“Ek’s eintlik ’n regte nerd,” sê hy.

Hoogtepunte

Al is hy net 12 jaar oud, het hy al hoogtepunte in sy loopbaan bereik waarvan sommige mense net kan droom. Daaronder tel hy sy deelname aan Classics Is Groot, asook die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms vir die Uitvoerende Kunste, wat in Julie vanjaar in Los An­geles gehou is.

Hy het ook in Augustus vanjaar die MTV Music Video Awards in New York bygewoon. En ’n mens se oë rek wanneer jy hoor in wie se geselskap hy was.

Hy het sterre soos Jennifer Lopez, Shawn Mendes, Frankie Grande, die sangeres Ariana Grande se broer, die musiekgroep PrettyMuch en die rapper DJ Khaled ontmoet.

“Die rooitapyt was ongelooflik met al die media. Om dit met al die groot name in die wêreld te kon deel was fantasties. Jennifer Lopez was natuurlik ’n hoogtepunt; sy het ’n ongelooflike teenwoordigheid en kan sing, dans én toneelspeel.”

Debuutalbum

Stéfan finaliseer tans sy debuutalbum by Coleske ­Artists. Hy het ook ’n musiekvideo saam met Karlien verfilm. Dié video word binnekort uit­gereik.

“Dit was vet pret. Karlien gee ’n regte twist daaraan. Dit was ’n voorreg om saam met haar te kon werk.”

Hy werk tans ook aan sy eie liedjie, maar het nog nie ’n naam daarvoor nie.

“Die liedjie gaan daaroor dat ons almal aan die binnekant dieselfde is,” vertel hy.

En wat sal hy nog eendag wil bereik?

“Ek wil mense met my musiek aanraak. Ek wil graag hê mense moet dieselfde ervaar as wat ek ervaar wanneer ek na musiek luister.

“Dit sal ook wonderlik wees as ek dit op ’n internasionale skaal kan doen.”

Sy held, Charlie Puth  

Stéfan beplan om in die toekoms liedjies saam met die YouTube-sen­sasie Charlie Puth te skryf. Charlie is bekend vir treffers soos How Long en Attention.

“Hy is beslis een van my helde en ek is seker ná my besoek aan hom binnekort sal ons ’n beter verhouding hê. Ek glo hy gaan my broer in die musiek­wêreld word.”

Kitsvrae
  • Grootste swakheid? Dans.
  • Gunstelingpeuselhappie? Ferrero Rocher-sjokolade.
  • Wat doen jy voor jy optree? Ek bid.
  • Gunstelingliedjie om te sing? When I Was Your Man van Bruno Mars.
  • Vyf liedjies wat jy wens jy geskryf het? Love Yourself (Justin Bieber), Grenade (Bruno Mars), Someone Like You (Adele), Listen to Your Heart (Roxette) en Shape of You (Ed Sheeran).
  • Die vreemdste gerug wat jy al oor jouself gehoor het? Dat ek kan dans.
  • Jou luitoon op die oomblik? Grenade van Bruno Mars.
  • Wat is die laaste fliek wat jy gekyk het? Ant-Man and the Wasp.
  • Kos waaroor jy mal is? Pasta (veral Napolitana).
  • Kos wat jy haat? Olywe.
  • Shawn Mendes of Justin Bieber? Shawn Mendes.
  • Superman of Spider-Man? Spider-Man.
  • Watter dier sou jy wou wees? ’n Beer. (Dan kan ek baie eet en lank slaap.)