Die groep, wat bestaan uit Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant, het vroeër vanjaar aangekondig dat hul paaie gaan skei ná ’n dekade saam sodat hulle aan hul individuele projekte kan werk.

Die trio het sedert hul eerste album in 2011 uitgereik is, gehore landwyd met hul energieke musiek uit hul stoele gelig en saam laat dans. Hulle is bekend vir treffers soos "Gebore om jou lief te hê".

Kyle Grant, wat eers later by Adam aangesluit het toe die sanger Joe Foster in 2013 die groep verlaat het, is die eerste Adam-lid wat ’n sololiedjie uitreik. Sy weergawe van die Kersfeesliedjie “Grown-Up Christmas List” word binnekort bekendgestel.

“Ek het dié liedjie in 2000 die eerste keer tydens Kersfees in Amerika gehoor. Ek het nog nooit die liedjie in Suid-Afrika oor die radio gehoor nie en wou graag die eerste een wees wat dit op dié manier in Suid-Afrika uitreik,” vertel Kyle aan Huisgenoot.

kyle grant,sanger,adam,musiekvideo
Kyle Grant is die eerste Adam-lid wat ’n sololiedjie uitreik. Foto: ER Lombard

Die musiekvideo is onlangs deur Ryno Mans by RM Productions in Centurion verfilm. Die liedjie is oorspronklik deur David Foster en Linda Thompson-Jenner geskryf en deur David en Natalie Cole gesing.

“Ek is nog nie heeltemal seker watter genre musiek ek wil uitbring nie, so ’n Kersfeesliedjie maak is ’n oorgang tussen die musiekgroep en my sololoopbaan,” vertel Kyle.

kyle grant,sanger,adam,musiekvideo
Sy weergawe van die Kersliedjie “Grown-Up ­Christmas List” word binnekort bekendgestel. Foto: ER Lombard

Kyle se mede Adam-lid Hugo het die Kersfeesliedjie vervaardig wat nou as sy solodebuut gaan dien. Hy het op sy eie al twee musiekvideo's, "#Doubt" en "A no no", saam met die sanger Armand Joubert geskiet met Ryno, wat ook nou agter die musiekvideo vir sy eerste sololiedjie steek.

“Hugo ken my stem beter as enigiemand anders in dié stadium. Ek voel gemaklik om saam met hom te werk en hy saam met my; dit is ’n geleentheid vir ons albei om saam kreatief te wees,” sê Kyle.

adam,musiekgroep,musiek
Die manne is trots op die pryse wat hulle ontvang het en het baie jare saam gereis. Foto: Verskaf

Vir die musiekvideo het hulle probeer om die dekor te vermy wat enigiets met sneeu te doen het omdat hulle die gevoel van ’n Suid-Afrikaanse Kersfees wou skep. 

"Die gevoel van die video en die klem op die lirieke is die belangrikste deel van die musiekvideo. Ons wou nie die verfilming te ingewikkeld maak nie,” sê Kyle.

“Die positiewe boodskap van die liedjie is iets wat Suid-Afrika moet hoor,” meen hy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.