Terug met mening

Die Kanadese rockprinses Avril Lavigne (34) is ná ’n stilte van vier jaar terug met haar sesde album, Head above Water.

Dié album is geïnspireer deur Avril se stryd met Lyme-siekte, wat in 2014 by haar gediagnoseer is nadat sy deur ’n besmette bosluis gebyt is. Aanhangers kan nie genoeg van haar nuwe musiek kry nie.

Die titelsnit, wat in September 2018 uitgereik is, het die no. 1-posisie op baie lande se iTunes-trefferlys gehaal. Avril het ook onlangs op die Juno-prysaand, Kanada se weergawe van die Grammys, die Fan Choice-prys gewen.

Inspirasie

Sy was twee jaar bedlêend omdat Lyme-siekte “so lank ongediagnoseerd was”, onthul sy. Dié stryd was juis hoe haar treffer Head above Water gebore is. “Ek het een aand gedink ek gaan dood,” het sy op haar webtuiste vertel.

“My ma het saam met my in die bed gelê en my vasgehou. Ek het gevoel ek verdrink.

“Onderlangs het ek gebid: ‘God, hou asseblief my kop bo die water.’ In daardie oomblik het die liedjieskrywery van dié album begin.

Die lirieke het deur my gevloei,” vertel Avril, wat op 17 roem verwerf het met haar debuutenkelsnit, Complicated (2002).

Sy voel nou goed, sê Avril. Sy volg ’n gesonde dieet en beoefen joga.

Opgang 

Avril is as 15-jarige ontdek toe sy countryliedjies in ’n boekwinkel op haar dorpie, Napanee in Ontario, Kanada, gesing het. ’n Jaar later het sy en haar ouer broer, Matthew, New York toe verhuis nadat ’n Kanadese platemaatskappy ’n opname van haar wat karaoke sing na ’n musiekvervaardiger gestuur het.

Twee maande ná haar 17de verjaardag het die musiekreus L.A. Reid ’n kontrak met haar onderteken. Haar debuutalbum, Let Go, was so suksesvol dat Avril net ses maande gegun is om die opvolg, Under My Skin (2004), te skryf.

Tot op hede is al meer as 40 miljoen van haar albums wêreldwyd verkoop.

Persoonlike lewe 

Sy’s nog goeie vriende met haar twee eksmans, die Sum 41-hoofsanger, Deryck Whibley (39), en die Nickelback-hoofsanger, Chad Kroeger (44). Chad, van wie sy in 2015 geskei het, het juis saam met haar gewerk aan die snit Warrior op haar jongste album.

Sy is nou al ’n jaar saam met Phillip Sarofim (33), die seun van ’n Texas-miljardêr. “Ek glo in die liefde,” het sy onlangs in ’n onderhoud gesê.

Bronne: Avrillavigne.com, People.com, Pitchfork.com, TheGaurdian.com, Billboard.com

Psst . . . Het jy gehoor? 

Joshua na die Reën is terug!

Joshua na die reen
Foto: Verskaf

Die sanger se langverwagte nuwe album, Someraarde, is van 12 April af op alle digitale platforms beskikbaar. Die eerste enkelsnit, Soos in Nou, wat verlede maand uitgereik is, het op radiotrefferlyste soos Jacaranda FM s’n geboer.

Die sanger sê die titelsnit is geskryf vir sy ouboet, Pierre.

“Vandat ek kan onthou, was my broer se hoop vrede vir die wêreld en dat almal genoeg sal hê om van te leef. Dat mense hul volle potensiaal sal ontdek. Ek het besef dat jy daardie plek net in jouself kan kry. En as dit ’n naam gehad het, sou myne Someraarde gewees het.”

Die gewilde aktrise Christia Visser, van Die Boekklub- en Ballade vir ’n Enkeling-faam, hou deesdae haar lyf sangeres.

Christia Visser
Foto: Verskaf

Die boorling van Swellendam het onlangs haar eerste enkelsnit, 17 Shots, uitgereik. Sy was ook die medeskrywer van dié snit.

“Dié liedjie gaan oor uitdagings in ons lewe, om jouself te vind, en is ’n persoonlike boodskap van hoop waarmee mense hulself kan vereenselwig”.

Is dit genotvol of nie? Besluit self!

Kom neem deel aan die gesprek