Vernette Wessels, die liedjieskrywer van die Suid-Kaapse duo, vertel sy het in die sosiale media van Tania van Twisk se verhaal te hore gekom.
“Ons het op Facebook vriende geword en ek het agtergekom hoe sy ander mense motiveer,” vertel Vernette aan Huisgenoot.
Tania was op 'n Vrydagaand in Junie 2011 in 'n baie ernstige motorongeluk.
Haar lang lys van ernstige beserings sluit ook in dat haar nek en rug gebreek is. Die dokters het gesê Tania, 'n voormalige danser en persoonlike afrigter, sal nooit weer kan loop nie.
Tog laat Tania haar nie onderkry nie. Sy ondergaan fisioterapie en deel haar vordering met haar byna 2 000 volgelinge in die sosiale media. Sy tree ook dikwels as 'n gasspreker by skole op.
“Om verlam te wees is my Goliat, maar vandag het ek hom met 'n klip gegooi!” het sy geskryf by 'n video waarin sy vir die eerste keer met behulp van 'n robot trappe klim.
Vernette was reeds besig om die liedjie te skryf toe sy van Tania gehoor het. “Die liedjie handel oor liefde in alle verhoudings, of dit nou romanties, in die gesin of vriendskaplik is.
"Dit gaan nie altyd goed nie en jy kort mense om jou in moeilike tye by te staan,” verduidelik sy.
Later het die prentjie van Tania se deursettingsvermoë haar bygebly en die hart van die liedjie geword: “Sal jy my dra, al is dit swaar? Sal jy my vashou, sal jy my regop hou?”
Tania is saam met haar gesin en fisioterapeut in die video te sien en die rou emosie word daarin vasgevang.
Hulle het die afgelope agt jaar 'n moeilike pad saam met Tania gestap. En ten spyte van die harde werklikheid wat hulle getref het, deel hulle graag dié inspirerende storie met ander.
Vernette en Marius vier op 19 September hul 10de huweliksherdenking en het besluit om die liedjie op hul spesiale dag uit te reik.
- Ekstra bron: taniavantwisk.co.za
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET