“Vir die afgelope twee maande werk ek en Charlton Daniels aan hierdie projek. Ek het na hom toe gegaan met die idee dat ek graag ’n liedjie wil doen, want die meerderheid van die liedjies daar buite hou verband met covid-19. Ek het net gedink daar is ander probleme wat deur covid-19 geaffekteer word en ek sal graag daarop wil fokus,” vertel Emo aan Huisgenoot. 

Hierdie probleme sluit in mense wat fisies, finansieël of emosioneel sukkel in hierdie onsekere tye. 

“Die liedjie was net ’n manier om vir mense te laat weet dat jy mentally moet sterk wees oor hierdie tydperk en as jy af voel moet jy net weet jy is nie alleen nie. Jy is nie die enigste mens wat daardeur gaan of voel soos jy voel nie en dis okay,” sê Emo. 

Hy het juis verskeie mense in die vermaakliheidsbedryf genader om die musiekvideo te maak omdat hulle baie veerkragtig is. 

emo adams,sanger
Die sanger en TV-aanbieder Emo Adams. Foto: Verskaf

“Soms word akteurs en sangers sleg gesê, maar hulle sal steeds die volgende dag grimering aansit en regmaak om hulle werk te gaan doen. Hulle werk is om ander mense beter te laat voel.”

Die Noot vir noot-aanbieder het seker gemaak hy gebruik nie net sangers in die musiekvideo nie, maar ook akteurs, skrywers, aanbieders en sportsterre. Baie van die akteurs moes gebaretaal leer vir die musiekvideo. 

early b,emo adams
Early B is ook saam met Emo Adams te sien in die musiekvideo. Foto: Verskaf

“Ek het seker gemaak ek sluit almal in om te wys dat covid-19 nie net sangers affekteer nie.” 

Volgens Emo is 99% van hierdie musiekvideo, waarin bekendes soos die skrywer Deon Meyer, die Bok-held Bryan Habana en die aktrise Donnalee Roberts gesien kan word, oor die foon gedoen. 

“Almal het op hul eie tyd en by hul eie plekke geskiet. Jy sal sien dat die meerderheid van die mense buite is in die videos. Ons wou gehad het mense moet sien dat die lewe buite aangaan en dat jy nie heeltyd beknop in jou huis moet wees nie.” 

Emo glo steeds dat liedjies en die manier hoe jy dit oordra ’n verskil in mense se lewens kan maak. 

“Ek dink almal was al op ’n plek waar hulle dink hulle is alleen en as jy luister na die lirieke sal jy hoor jy is nie alleen nie. Daar is altyd iemand wat kan help so moenie skaam wees om vir hulp te vra nie.”