Lily Hollows (19) se liedjie Daddy I’m Gone gaan oor ’n jong meisie wat verlief is en teen haar oorbeskermende pa rebelleer.

Sy het die liedjie geskryf om ouers daarvan bewus te maak dat tieners groter ondersteuning in vandag se lewe nodig het, sê Lily. Die jong sangeres beskryf haar musiek as sielvolle en opbouende indie-jazz vir die jeug.

Sy het ’n baie hegte band met haar familie.

“Ek weet nie wat ek sonder hulle sou doen nie. My broer laat my altyd tussen sy studie deur lag, en dit is vir my baie ondersteunend,” sê Lily.

Die sangeres van Roodepoort in Johannesburg is gaande oor die Kanadese sanger Michael Bublé. “Michael is beslis my held. Sy musiek is sielvol.”

Lily luister ook deesdae gereeld na die Amerikaanse sangeres Demi Lovato se liedjie Tell Me You Love Me.

“Die liedjie het ’n baie sterk boodskap, en ek huil nog elke keer wanneer ek na die musiekvideo kyk,” sê Lily.

Your Heart Is As Black As Night - Melody Gardot

A post shared by Lily Hollows (@lilyhollows) on

Haar kreatiewe gees is een van haar grootste voordele, sê Lily. Sy wil graag oor vyf jaar op die verhoog in ’n teaterproduksie of in ’n fliek haar buiging as aktrise maak om op dié manier positiewe boodskappe aan haar aanhangers oor te dra.

“Ek weet dis moontlik as ek hard werk en nie tou opgooi nie.”

The One I Love Is Gone - Katie Melua @katiemeluaofficial

A post shared by Lily Hollows (@lilyhollows) on

Lily se lys prestasies spreek van haar talent as sangeres. Sy het provinsiale kleure in die uitvoerende kunste verwerf van die Suid-Afrikaanse Federasie vir die Uitvoerende Kunste.

In haar matriekjaar aan die Hoërskool Krugersdorp is sy aangewys as die eerste prinses in haar skool se jaarlikse Mej. KHS-skoonheidskompetisie. Sy het ook op skool ’n prys vir toneelspel gewen.

Pretfeite oor Lily
  • Ek het natuurlike krulhare.
  • Ek het aan die Hoërskool Krugersdorp in die meisiesokkerspan gespeel.
  • Ek het my kinderjare in Brittanje deurgebring en sal dus nooit nee sê vir tee en koekies nie.
  • Ek is oortuig ek was ’n meermin in ’n vorige lewe.
  • My oë verander van kleur afhangend van my bui.
  • Ek is mal oor lysies maak. “Orde” is my tweede naam.
  • Ek was nog nooit by ’n troue nie.
  • Ek doen gereeld doen-dit-self-projekte met my gereedskapstassie.
  • Selfs plastiekplante verlep wanneer ek daarna moet omsien.
  • Ek hou van sirkels ...