Sy musiek

Hy is deur die natuur geïnspireer toe hy sy jongste enkelsnit, Waves, skryf.

“Ek het die see voor my gesien en ’n kalm omgewing. Dis waar ek aan die naam vir die liedjie gekom het,” vertel hy.

Sy debuutliedjie, See Her, is verlede jaar uitgereik en op 26 nasionale radiostasies gespeel. Sy jongste liedjie word in Augustus bekendgestel.

Die 16-jarige Mykyle van Randburg, Johannesburg, werk nou aan sy debuutalbum, wat 10 liedjies gaan bevat. Die album word later vanjaar uitgereik. Mykyle het onder andere saam met die musiekvervaardiger ProducedbyVAM, wat al saam met Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Da L.E.S en AKA gewerk het, aan sy komende album gewerk.

’n Ster word ontdek

Op skool het hy op musiekgeleenthede en in die koor gesing. Hy was nege jaar oud toe hy in ’n musiekateljee ’n demoliedjie opneem. CeeLo Green, ’n Amerikaanse sanger en Grammy-wenner, het die demo gehoor en Mykyle begin mentor. Hy het glo selfs vir Mykyle gesê hy gaan nog eendag ’n ster wees.

“Dit was ongelooflik om met CeeLo saam te werk, want ek het ’n groot bewondering vir hom en is ’n groot aanhanger van sy werk,” sê Mykyle.

In Drake se spore 

Hy is ’n musiekvervaardiger en rapper. In sy volgende enkelsnit, wat in Augustus bekendgestel word, gaan sy aanhangers ’n voorsmakie van sy rapvaardighede kry. Mykyle, wat 13 000 volgers op Instagram het, het hulle onlangs vermaak toe hy die Amerikaanse rapper Drake se treffer God’s Plan aanpak.

Familie en studie

Mykyle is sy ouers se enigste kind.

“My ouers is nie meer saam nie; dus geniet ek dit om twee geskenke op my verjaardag te kry,” sê hy laggend. Sy tipiese dag begin soggens om halfnege wanneer hy aan sy musiek en studie begin werk.

“Ek ontvang tuisonderrig en dis uitstekend vir my loopbaan, want dit laat my tyd toe om daarop te fokus om ’n beter kunstenaar en musikant te word.”

Groot oomblik

Sy eerste verhoogoptrede was verlede jaar in die Valley of Light-konsert in Kaapstad toe hy die verhoog met onder andere Sketchy Bongo en Locnville deel.

“Dit was een van die angswekkendste oomblikke van my lewe; ek was so senuagtig,” sê Mykyle.

Sedertdien het hy in konserte soos die 2017-Channel O Chase Festival gesing, waar Bonang Matheba die seremoniemeester was.

Hoogtepunt

Een van die hoogtepunte in sy loopbaan was toe hy in Oos-Londen optree.

“Toe ek begin sing, was daar min mense. Skielik het almal van elke hoekie af gekom, reguit verhoog toe. Hulle het begin spring en pret gehad terwyl ek opgetree het,” onthou hy.

As ’n sanger is dit een van die beste gevoelens ter wêreld, sê Mykyle.

Pretvrae

Het jy stokperdjies?

Benewens musiek en sang is ek lief vir sokker speel en om nageregte saam met my ouma te maak.

Wat is jou grootste swakheid?

Dat ek te veel omgee oor wat ander mense van my dink.

Gunstelingmiddernag-peuselhappie?

Springmielies met ’n bottergeur.

Wat is jou huidige selfoonluitoon?

Die standaard-iPhone-luitoon. Dit is nie baie opwindend nie, maar dit doen sy ding.

Grootste vrees?

Spinnekoppe en slange. Wanneer ek met een in kontak kom, is my eerste instink om te hardloop.

Met watter kunstenaar sal jy wil saamwerk?

Ek sal graag saam met die sanger Bruno Mars, die hip-hop-duo Rae Sremmurd en die musiekvervaardiger Mike WiLL Made-It wil werk.

Laaste fliek wat jy gekyk het?

Anchorman 2. Dit was eerlikwaar die snaaksste fliek wat ek al gekyk het.

Wat is die een ding wat jy nooit sal aantrek nie?

’n Onesie; ek dink dit sal vir my pynlik wees.

Gunstelingkos?

Ribbetjies, tjips en pizza met pepperoni daarop.

Van watter kos hou jy nie?

Slaai. Ek dink dis aaklig.

Shawn Mendes of Zayn Malik?

As ek moet kies, sal dit Zayn Malik wees.

Selena Gomez of Ariana Grande?

Ek het al meer van Ariana se liedjies geluister. Ek dink Selena is mooi.