Haar kenmerkende rooi leerbaadjie is ingeruil vir ’n goue, “wat so helder skyn dat tot die son ’n donkerbril moet opsit”, vertel die vermaakpersoonlikheid aan Huisgenoot.

Die nuwe album, ook getiteld Die Bliengmasjien, word na verwagting op 1 Augustus uitgereik. “Maak reg vir ’n riller, want die Flooze se attitude raak ál willer,” sê die Flooze, oftewel Sorina Erasmus, oor die album.

Die Flooze sê almal het die potensiaal om ’n bliengmasjien te wees. “Dit maak nie saak of jy ’n duursame 1 karaat-diamant in Kimberley se gat is en of jy ’n cheap en cheesy goue lucky charm is nie. Solank jy net altyd onthou om te sparkle-sparkle, my suster!”

Sy sê haar vorige album is sewe jaar gelede uitgereik en dat sy haar “tjommas” nuwe kreatiewe klanke skuld.

Aanhangers kon darem al einde verlede jaar ’n voorsmakie van die nuwe album kry met Die Tennis Tune, wat sy saam met die sanger Dirk van der Westhuizen opgeneem het.

Sorina vertel die "skoon humorsin" van haar musiek maak dat mense van alle ouderdomme daarna kan luister. Sy meen haar seuntjie, Braam (4), en dogtertjie, Miana (2), “gooi die Tennis Tune selfs beter as Dirk en Flooze”.

“My kinders ken die hele Flooze-album uit hul kop, want mamma speel dit altyd in die kar wanneer ons ry,” vertel Sorina. En as dié tweetjies saam by ’n vertoning is, wil hulle net saam met haar op die verhoog dans, vertel sy. 

Dis die "humor en hart" wat mense steeds by die Flooze laat aanklank vind, meen Sorina.

“Humor, want in vandag se tyd met soveel negatiwiteit en druk wat die mensdom omring en soveel dinge wat mens se vreugde (binneste “blieng-blieng”) wil steel, gee die Flooze vir mense ’n uitlaatklep om jouself te wees,” vertel Sorina

“Hart, want sy is maar net ’n kommin girl sonder pretensie en oordeel niemand op grond van hul tekortkominge nie,” verduidelik Sorina.

“Dis ’n nuwe era vir Flooze en sy is trendy, edgy en classy – die Bliengmasjien van die reënboognasie."