Kurt Darren (50) het verlede Sondagaand die musiekvideo by sy huis in Pretoria verfilm. 

“Ek het met die konsep vorendag gekom en my vrou, Dunay, het die stel stileer. Sy was die perfekte keuse vir die taak; dit was so stylvol,” spog Kurt. Hy en sy vrou is al nege jaar getroud en het twee kinders, Kyrah (6) en Kade (4).

Die musiekvideo is by Kurt se huis verfilm.
Die musiekvideo is by Kurt se huis verfilm. Foto: Verskaf

DIE MUSIEKVIDEO

Hy wou alles rondom die video persoonlik hou, want die liedjie lê hom baie na aan die hart, sê Kurt. Dis hoekom hy van sy vriende in die musiekbedryf soos Juanita du Plessis, Elizma Theron en Nicholis Louw genooi het om deel daarvan te wees. 

“Ek ken die meeste van hulle al jare lank. ’n Paar kon nie daar wees nie, maar hulle was daar in gees,” sê Kurt. 

“’n Mens moet onthou in ons bedryf sien ons mekaar net ’n paar keer per jaar by groot feeste en vertonings en kry bitter min kans om bymekaar te kom. Daarom was dit ’n baie spesiale aand,” voeg hy by. 

Die Campbells en Ricus Nel is van die kunstenaars
Die Campbells en Ricus Nel is van die kunstenaars wat in die musiekvideo te sien is. Foto: Verskaf

Vir die "Kaptein"-sanger was die video se direksie baie maklik. “Ons het gebraai, gesels en musiek gemaak. Dis iets wat in elke Suid-Afrikaner se bloed vloei! Die liedjie is nie net nostalgies nie; dit maak jou ook opgewonde oor mense wat jy binnekort weer gaan sien.” 

Kurt kan nie wag dat sy duisende aanhangers die musiekvideo sien nie. “Ek dink daar gaan ’n hele paar glimlagte wees en dis my doel met die liedjie.”

DIE LIEDJIE 

Hy het "Die goeie ou dae" twee maande gelede geskryf saam met Don Kelly, met wie hy gereeld liedjies skryf, en die musikant Daniel Green. 

Kurt het Die Goeie Ou Dae twee maande gelede geskr
Kurt het Die Goeie Ou Dae twee maande gelede geskryf. Foto: Verskaf


“Almal van ons dink terug aan die goeie ou dae en in dié geval is dit Maart 2020. Ons mis die klein goedjies soos ’n braai saam met vriende, om hande te skud en drukkies uit te deel,” sê die sanger oor die inspirasie vir die liedjie se titel. 

KERSPLANNE

Vir Kurt is Kersfees ’n tyd om saam met familie deur te bring, asem te skep ná ’n lang jaar en die waarde van Christus van vooraf te besef. 

“Vir Kersfees gaan ek saam met my familie op die Suidkus wees. Ek wil in die see saam met my kinders spring en saam met my engelvrou langs die braai staan en gesels oor die positiewe dinge wat voorlê. Ek wil nie op enige sosiale media wees of koerante lees nie en wil net mens wees,” sê die sanger. 

En waarvoor is hy dankbaar vanjaar? 


“Ek is eerstens baie dankbaar dat my familie gesond is, asook die kans wat die inperking my gegee het om nuwe ondernemings te begin. Ek kan nie wag vir 2021 nie, en laat dit asseblief ’n fantastiese jaar vir almal wees!” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe