Die vier lang jare tussen elke toernooi is verby en die Proteas-span sal Donderdagoggend in die eerste wedstryd van dié reeks teen Engeland in Londen te staan kom.

Talle Suid-Afrikaners hou duimvas dat die Proteas vir die eerste keer ooit die Wêreldbekertrofeë terug huis toe kan bring.

Een van dié ondersteuners wat asem ophou is die sanger Robbie Wessels (38). Robbie het onlangs ’n liedjie vrygestel om nie net die Proteas aan te spoor nie, maar ook sy landgenote gees te gee en te laat saamstaan agter dié span.

“Ek het vier jaar gelede die wedstryd tussen die Wes-Indies en Suid-Afrika gekyk waar AB de Villiers 162 lopies aangeteken het. Ek was baie geïnspireer en het toe dié liedjie geskryf,” vertel Robbie aan Huisgenoot.

Hy het egter eers hierdie jaar besluit om die video op te neem en die liedjie vry te stel. “Die liedjie het ontstaan uit die passie wat ek daardie dag gevoel het. Dit het my patrioties laat voel en ek glo sport kan mense bymekaar bring,” voeg hy by.

Robbie is bekend vir sy liedjies waarmee hy die ligter kant van sport wys, soos Player 23 en die Cheetah Song, maar het ook groot sukses behaal met die ernstiger liedjie Patrick Lambie. Hy het hierdie liedjie geskryf en uitgereik ná dié rugbyspeler wat vir die Franse rugbyklub Racing92 uitdraf op 28 sy stewels opgehang het weens die simptome van harsingskudding wat hom net nie wou los nie.

“Ek dink mense geniet beide. Die ernstige liedjies het egter meer trefkrag, want ons Suid-Afrikaners hou daarvan om nostalgies te raak oor ons sport,” verduidelik Robbie.

Dit was vir hom egter lekker om dié keer ’n liedjie oor krieket uit te bring. “Ek het ’n groot passie vir krieket en kyk dit onophoudelik,” sê Robbie wat self ook nou en dan sosiaal ’n kolf rondswaai.

Die sanger is saam met kunstenaarsvriende en ’n klavierspeler tans in België vir vakansie en om twee vertonings te doen.

“Die weer is baie lekker hier en die mense is vriendelik. Die Vlaamse taal klink nes Afrikaans,” sê Robbie oor sy tydjie oorsee. Dan voeg hy ’n bietjie meer ernstig by dat hy net betyds in Suid-Afrika sal wees vir die Wêreldbeker om die Proteas te ondersteun.