Eers het die Ndlovu-jeugkoor in die talentsoekprogram America’s Got Talent naam gemaak en selfs tot die eindronde deurgedring en toe het die Hoërskool Rustenburg se koor die internet aan die gons gehad met hul energieke weergawe van Queen se "Bohemian Rhapsody".

Albei kore word deur Ralf afgerig. Dié keer is dit sy derde koor, by die Roedean School in Johannesburg, wat die hart vermurwe.

“Toe die president skole twee weke gelede gesluit het, het ek as dirigent by die huis gesit en gedink ‘wat nou?’ ’n Mens kan nie werklik aanlyn repeteer nie,” verduidelik Ralf aan Huisgenoot.

Maar wanneer ’n mens na die video kyk waar Roedean School hul weergawe van Leonard Cohen se bekende lied "Hallelujah" uitvoer, is dit duidelik dat Ralf en die koor iets magies reggekry het. Nie een meisie is dan in dieselfde vertrek nie!

“Ons het ’n demo-weergawe opgeneem en dit vir al die koorlede gestuur. Hulle het toe ’n video geneem waar hulle saam met die liedjie sing en dit vir ons teruggestuur. Dit is hoekom al die meisies oorfone in het,” verduidelik Ralf.

“Dit was ’n baie tegniese storie en ek het geen idee hoe die grafiese span die video bymekaargesit het nie,” sê hy.

Ralf vertel die idee vir die video was om die gemoedere van die skoolgemeenskap en onderwysers te lig.

“Ons het ’n video vir later in die jaar beplan, maar ons sou moontlik in April of Mei verfilm het. Toe dit weens die coronavirus nie meer kon gebeur nie, het ons dit vorentoe geskuif en relevant gemaak tot die situasie,” sê Ralf.

"Hallelujah" was gelukkig reeds deel van hul repertoire vir die jaar, maar die moeilikheid was om al die stemme en die verwerking in die video te laat saamwerk.

Die video is al meer as 249 000 keer op YouTube gekyk en het al meer as 850 000 kyke op Facebook ingeryg.

“Die internet is ’n eerlike plek. As jy iets wil maak met die doel om groot te gaan, dan werk dit gewoonlik nie,” sê Ralf. 

Terwyl landsburgers midde-in ’n inperking tuis vasgekeer sit, wys dié video dat ons werklik almal saam in die situasie is.

“Ek is tuis saam met my vrou en my kinders, maar daar is werklik baie mense wat in hierdie tydperk alleen voel. Of in ongemaklike situasies tuis vasgekeer is,” vertel Ralf. “Maar ons gaan almal saam hierdeur.”