En nou gaan hulle ook vir die werklikheidsreeks se regstreekse rondes op die verhoog verskyn.

Die Ndlovu-jeugkoor wat staande toegejuig is ná hul eerste uitvoering in Amerika – wat soos ’n veldbrand in sosiale media versprei het – het die opwindende nuus dat hulle tot die volgende ronde deurgedring het op hul Twitter-blad bekendgemaak. Die koor kom van 'n arm gemeenskap in Limpopo.

"Ons is steeds verstom oor die oorweldigende reaksie wat ons van Suid-Afrikaners ontvang het," sê die koordirekteur, Ralf Schmitt aan Huisgenoot.

"Dis 'n geleentheid om, ten spyte van ons agtergrond, vir jongmense te wys wat moontlik is. Ons is so gelukkig en opgewonde. Ons sal voortgaan om hard te werk deur hard te repeteer."

Schmitt het ook bygevoeg dat hulle dankbaar is vir die liefde wat hulle ontvang het en sal aanhou om Suid-Afrika te verteenwoordig.

Die koor vorm nou deel van die top-7 vertonings wat deel van America's Got Talent se eerste regstreekse uitdunne is.

Voor hulle die nuus ontvang het dat hulle tot die regstreekse rondes deurdring, het die Suid-Afrikaanse koor ook ’n weergawe van die 2010 Fifa-Wêreldbekerlied, Waka Waka, uitgevoer. 

“Wat julle verteenwoordig, is eenheid en gemeenskaplikheid. Pragtig,” het die beoordelaar Julianne Hough oor die koor se uitvoering gesê. “As ons julle optrede in 'n bottel kon vasvang, sou ek dit elke dag gedrink het,” het die beoordelaar Simon Cowell getwiet. 

Kyk hier na een van hul pragtige uitvoerings: 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.