Die 31-jarige sangeres en liedjieskrywer en boorling van Durban het tydens haar blinde oudisie die Maroon 5-hoofsanger Adam Levine en die country-ster Blake Shelton laat regop sit. Tydens 'n blinde oudisie sit die beoordelaars met hul rug na die deelnemers en draai om wanneer een hulle beïndruk en hulle die sanger wil afrig. 

Dié veteraanbeoordelaars het hul stoele omgedraai tydens die 16de seisoen van die reeks om Selkii te oorreed om by hul onderskeie spanne aan te sluit.  

"Om voor sulke internasionale bekendes op te tree, was nogal stresvol. Maar ek het besluit om my energie op ’n positiewe manier te gebruik deur dit te geniet en nie aan die uitslag te dink nie," vertel Selkii aan Huisgenoot uit haar tuisstad, Orlando, Florida, in Amerika. Sy het gepraat oor haar eerste vertoning voor die beoordelaars, wat Adam, Blake en John Legend en Kelly Clarkson insluit.

Kelly het in 2002 roem verwerf toe sy die eerste seisoen van die sangkompetisiereeks American Idol gewen het.

Selfs Macy Gray, wie se liedjie Selkii gesing het, het in die sosiale media vertel hoe in haar noppies sy is met haar weergawe van haar liedjie. "Adam Levine en Blake Shelton weet wat ongelooflike talent is wanneer hulle dit sien! Sing jou hart uit, Selkii,” het sy laat hoor. 

Selkii het op die ou end besluit om Blake as haar afrigter te kies aangesien haar sielvolle sangstyl naaste aan sy countrygenre is. Sy is die eerste Suid-Afrikaner wat in 16 seisoene in dié program verskyn. 

Dit is nie die eerste keer dat Selkii aan ’n sangkompetisie deelneem nie. Sy het in 2010 aan die plaaslike sangkompetisiereeks Idols op M-Net deelgeneem en die top-sewe bereik. 

Selkii het in Durban grootgeword en het van kleins af ’n liefde vir musiek en die see.

Of dit nou skubaduik of branderplankry is; sy is gereeld in haar duikpak. Dis juis hoekom sy die verhoognaam Selkii gekies het. Dis afkomstig van "seal", die Engelse woord vir ’n rob.

Sy het ’n manier gevind om haar passie vir musiek en die see te kombineer deur op luukse skepe te sing. Dis daar waar sy haar man van die afgelope twee jaar, Edge, ontmoet het.

Sy het vanjaar, ná vyf jaar in haar "droomwerk" op skepe, besluit om ’n blaaskans te neem om op haar sangloopbaan te fokus. 

musiek,droom,passie,sanger
Selkii op pad na haar oudisie in Los Angeles. Foto: Verskaf

Selkii en haar man het in 2016 afgehaak en het ’n jaar later in Orlando, Florida, nesgeskop. 

Sy wil so lank as wat sy kan op die The Voice-verhoog sing, maar dit hang natuurlik af van hoe lank Amerikaners vir haar sal stem. Sy het reeds planne vir haar sangloopbaan en wil aan ’n album werk nadat die reeks verby is. 

Verlang sy na Suid-Afrika? "Baie! Ek verlang vreeslik na my familie en Suid-Afrika," vertel sy. "Maar Orlando het my huis geword en ek is oorweldig deur die liefde en steun van die mense hier.” 

hond,liefde,musiek
Selkii met haar geliefde hond, Blake wat sy na haar spanafriger Blake Shelton, genoem het. Foto: Verskaf
Selkii en haar mede-deelnemers. Foto: Verskaf

Haar raad vir opkomende sangers is om nie klein vertonings te onderskat nie. "Alles op ons reis help om ons te kry waar ons eendag wil wees. Ek dink nie mense besef hoe hard dit vir ons as sangers (in Suid-Afrika) is nie.

"Maar as Suid-Afrikaners het ons ’n dik vel en vind ’n manier om dinge te laat gebeur.” 

Haar droom is om voltyds in ’n kampeerwa te woon en deur Amerika te reis om haar passie saam met Edge en hul bostonterriër, "Little Blake", uit te leef. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!