Tog kan sy nie méér opgewonde en trots wees nie op haar eerste enkelsnit, "Dis nie ek nie", wat eindelik hier is.

Die liedjie is uit die pen van Chris Rain en Chereé Strydom. Dit gaan oor iemand wat smag na meer as net geld en die alledaagse gejaag wat die stadslewe bring.

Sy het die liedjie gekies omdat dit uitbeeld wie sy is en ook omdat dit die potensiaal het om ander mense te raak en te inspireer. 

“Dié lied is om mense daaraan te herinner hulle moet ophou fokus op die stres en die lelike kant van die lewe. Elke persoon wat jy ontmoet, het hul eie uitdagings en probleme. Dit is egter wat jy daarvan maak wat tel,” sê Soné.

“Dit was een van die mees opwindende oomblikke in my hele lewe om in die studio in te stap en van niks af aan my eerste enkelsnit te begin werk,” sê Soné aan Huisgenoot.

Soné Joubert
Foto: Verskaf.

Sy glo dat mense sal aanklank vind omdat “almal soms voel of hulle op 'n plek is waar hulle nie hoort nie.”

Haar lewe het drasties verander ná die derde seisoen van The Voice se finaal op 7 Julie vanjaar, maar sy is steeds dieselfde Soné.

“Ek het 'n hele paar ongelooflike boodskappe ontvang van jong mense wat sê hoe my hele reis met The Voice vir hulle selfvertroue gegee het,” begin Soné. 

“Ek is trots Afrikaans en het nooit weggesteek wie ek is nie. Ek het ook nooit verander gedurende die seisoen nie en altyd baklei vir my plek op daardie verhoog.”

Soné Joubert
Foto: Verskaf.

Hoewel sy baie trots is oor dié enkelsnit, bieg sy dat die senuwees tog 'n bietjie knaag.

“Maar ek glo dat die liedjie nog baie mense gaan bereik en dat God 'n plan het met my en my musiekloopbaan,” voeg sy by. 

Sy het vir drie maande lank aan die enkelsnit gewerk om dit perfek te kry, maar nou skuif haar fokus om meer liedjies te skryf en om binnekort haar debuutalbum op te neem.

“Toe ek in die studio instap toe dink ek ‘wow, it’s a dream come true.’ Ek het toe geweet die Here het my geskape om musiek te maak en te sing!”